Polisie in Tohoyandou het vanoggend in die vroeë oggendure, omstreeks 02:40, ‘n klagte ontvang, waarna hulle ‘n man (32) en vrou (27) met skietwonde in ‘n motor langs ‘n restaurant in Thohoyadou, Vhembe-distrik, Limpopo gevind het.
‘n Volskaalse soektog na die verdagtes van dié moorde is aan die gang.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die wit VW Polo-motorvoertuig, waarin die oorledenes gevind is, het ‘n Gautengse registrasienommer.
Met aankoms op die toneel is ‘n man op die bestuurdersitplek en ‘n vrou op die voorste passasiersitplek aangetref wat reeds oorlede was.
Verdere waarneming op die toneel het aangedui dat die bakwerk van die motorvoertuig met veelvuldige koeëlgate deurtrek is.
Volgens ‘n ondersoek wat reeds gedoen is, dui dit daarop dat die oorledenes op ‘n kort afstand doodgeskiet is.
Onbekende vermeende verdagtes het ‘n wit bakkie bestuur waarvan die besonderhede nie bekend is nie.
Die oorledenes se identiteit sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes van hul dood in kennis gestel is.
Die motief vir die moord is onbekend en die polisie se ondersoek duur voort.
Maj.genl. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen om na vore te kom met inligting wat die polisie ken help om mense wat verantwoordelik is vir die moord op die twee persone in hegtenis te neem.
“Enigiemand met inligting wat die polisie kan bystaan met die onmiddelllike arrestasie van die verdagtes, word versoek om na vore te kom.”
Indien enigiemand oor inligting beskik, kan hulle met die ondersoekbeampte lt.kol. Tendani Rambuda by 082 451 7154 in kontak kom.
Alternatiewelik kan Stop Misdaad by 08600 10111 of die naaste polisiestasie gekontak word of van die MySAPS-toepassing gebruik gemaak word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



