Daniel van Huyssteen van Lotus Swim School aan die Noordkus van KwaZulu-Natal wat ook ‘n plaaslike skipper en ‘n laerskool-sweminstrukteur is, het Woensdag 19 April 2023 sonder om twee keer te dink ‘n NSRI- pienk reddingsboei, wat strategies op Salmon-baai aangebring is, gegryp om ‘n vrou wat in ‘n seestroom vasgevang was, te red.
Volgens die NSRI was sy in die moeilikheid in die branders waar ‘n skiboot kort vantevore die see in gelanseer is.
Dit het voorgekom of sy sukkel om bo die water te bly, waarna hy sonder om te skroom die see in is en haar veilig na die strand gebring het. Veilig op die strand is daar vasgestel dat sy geen verdere hulp nodig het nie.
Die NSRI het Van Huyssteen bedank vir sy vinnige ingryping met die gebruik van hul reddingsboei.
Die reddingsboeie wat op strande geplaas word, is bewys dat dit effektief is om te help tydens nood omdat dit reeds in 146 reddings waarvan die NSRI bewus is, gebruik is.
Die publiek word weereens gemaan om in toegekende veilige areas in die teenwoordigheid van lewensredders te swem.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



