Gauteng-hospitaal stuur pasgebore baba saam met verkeerde ma huis toe

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Wakker sekuriteitswag by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal in Soweto word geprys vir sy flink werk toe hy raakgesien het dat die hospitaal die verkeerde baba saam met ‘n gesin huis toe gestuur het.

‘n Ma (35), wat die vorige dag aan ‘n babaseuntjie geboorte gegee het, is Dinsdag by die hospitaal ontslaan. Die hospitaal se sekuriteitswag het tydens die ma se ontslag opgelet dat die babaseuntjie se naamkaartjie nie pas by dié van die ma nie, en het die hospitaalpersoneel daarvan ingelig.

Die Gautengse departement van gesondheid sê in ‘n verklaring die hospitaal het nie die regte prosedure gevolg toe die ma en baba ontslaan is nie.

Toe personeel die saak ondersoek, het hulle vasgestel dat die ma wel met die verkeerde baba huis toe gestuur is. Die ma en baba is binne ure na die voorval by hulle huis gaan haal en teruggeneem na die hospitaal waar die saak hanteer is.

Die babaseuntjie het gesondheidstoetse ondergaan voor hy aan sy biologiese ma terugbesorg is.

Die ma van die baba, wat verkeerdelik ontslaan is, is 31 jaar oud en steeds in die hospitaal.

Beide families ontvang traumaberading na die voorval.

Die departement vra in die verklaring om verskoning aan die twee gesinne vir die ongerief wat die situasie veroorsaak het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel