Eksklusief: Vermiste Freddie Slabberts wat dood gevind is se ma praat oor haar soektog en pyn

Deel hierdie storie / Share this story

Loraine Slabberts is Freddie Slabberts, wat vermis was en dood gevind is, se ma. Sy het na sy dood met FiND iT gepraat.

Sy het eerstens dankie gesê vir hulp toe hy gesoek is.

Sy wil graag vertel wat gebeur het, maar kan weens die sensitiwiteit van sy dood en alles wat sy deurgemaak het nie alles deel nie. Loraine is aangeraai om nie met iemand te praat of enige verdere inligting as hierdie uit te gee nie, omdat Freddie se dood steeds ondersoek word.

“Ek wil net die storie uit kry, want ek wil nie dat my kind nog ‘n statisiek wees nie.”

Freddie het sy ma elke Donderdag gebel. En skielik was hy vir vyf weke vermis. Hy is as vermis aangemeld en dit is op Facebook gedeel.

Freddie is gebore in Unigray, ‘n voorstad van Johannesburg, waar hulle saam net sy ouma Miem gebly het.

“Hy sou nou en dan weggaan, maar het altyd teruggegaan na waar hy gebore is.”

“Ek bly in Kuruman so sy niggie het hom as vermis aangegee in Alberton want Kuruman-polisietasie kon my nie help nie. Ek het op Facebook begin soek na vriende wat hom daar ken (sy jonger broer bly by my, hy het my gesê waar om te begin). Een na die ander het almal dieselfde gesê – Freddie is laas gesien toe hy gejaag is deur ‘n man, maar niemand het verder as dit gepraat nie.”

Hierdie is hoe Loraine besef het dat Freddie van Germiston af terug was in Suid-Heuwels.

“Iemand het vir my inligting gegee, maar ook net beperkte inligting. Die Unigray-gemeenskap het toe daarna een Sondag ‘n search party bymekaargesit en in ‘n deel van die bos gaan soek. Dieselfde Sondag kontak ‘n man my wat sê hy werk vir ‘n organisation hoër as die polisie en dat hulle nie rêrig sulke tipe sake doen nie, maar hy sal my help.”

“Hy het die vermiste polisie-file in Elsburg gaan haal en Moffatview-polisiestasie toe gevat. Ek wou net my kind vind, so ek het hom met alles in my vertrou.”

As sy ma het sy in ‘n stadium ‘n beloning aangekondig, omdat sy besef het dat dit moontlik die enigste manier is hoe sy inligting van haar seun sal kan kry en dat mense desperaat genoeg kan raak om mekaar vir geld te verklap.

Die gebied waar haar seun was, was vervuil van misdade verwant aan dwelms, diefstal, huisbrake en kabeldiefstalle.

Toe sy dus ‘n oproep ontvang, het sy geweet daar is groot fout.

“Ek het die beloning afgehaal nadat ek aangeraai is om dit te doen en ek verstaan hoekom.”

“Vyf dae voordat Freddie gekry is, het almal hom skielik ‘gesien’ maar niemand kon ‘n foon tot by hom vat sodat ek met hom kan praat nie.”

Loraine verduidelik dat al haar kinders daar gebore is en jare daar gebly het. Haar jongste het meer onlangs na haar toe getrek. Hulle wou nog vir Freddie tot daar kry.

Die “organisasie-man” wat haar genader het, het haar gekontak en gesê dat Freddie die Saterdag by ‘n Pick n Pay gesien is en dat hy selfs op die kameras gaan kyk het om dit te bevestig.

“Jy kan dink hoe bly my moederhart was. Ek was reeds op pad Johannesburg toe. So vir die eerste keer in weke het ek hoop gehad. Ek het geglo ek gaan met my kind huis toe kom.”

“Ek was seker as hy wegkruip vir iemand sal hy uitkom as hy hoor ek is daar om hom te kom kry.”

“Wel dit was blydskap die oggend. Daai aand het die oproep gekom.”

“‘n Lyk is in die bos by N17 gekry. Mense kon nie mooi sien nie, maar aan die lengte was hulle seker dis my Freddie.”

Freddie se niggie het hom gaan uitken.

“Dit is my Freddie. Ek wou dit nie glo nie. Daai man het dan gesê ek gaan my kind huis toe bring.”

Toe Loraine in Johannesburg aankom, het die man haar gevat na waar Freddie se liggaam gekry is.

“My kind se hoed het nog daar gelê en hare wat ek seker is, is syne. Die man het gesê hulle het al die bewysstukke opgetel wat nodig was.”

Loraine sê Freddie is in die veld agter Elandpark by die N17 gekry. Hy is nie in bosse gekry nie, maar in die oop veld en nie ver van die pad af nie. In die meer digbeboste gebied bly mense. Loraine kan nie verstaan hoe iemand dus nie vir Freddie kon raaksien nie. Die verduideliking aan haar was dat hulle ‘n ander paadjie gebruik. Maar sy sê ongeveer 15 treë van waar sy liggaam gekry is, is daar ‘n brandkol met stukkies kabel wat daarop dui dat kabels heel moontlik daar skoon gebrand word.

“Drie dae nadat ek die eerste keer daar was, het ek teruggekeer en toe was daar ‘n klomp lang wit planke wat nie die eerste keer daar was nie. Maar tog is daar vir my gesê dat niemand daar kom nie en dis hoekom Freddie eers nie daar gevind is nie.”

“My kind was geen engel nie, maar as hy een sny brood gehad het, sou hy dit deel met jou as jy ook honger is. Hy was nie ‘n kind wat baklei nie en het respek vir ander mense gehad.”

Sy onthou hy was lief vir diere en sy beste vriend se seuntjie wat sy hart se punt was.

“Hy was nie bang vir enige werk nie, al was dit om sommer blikkies op te tel. Mense van die area wat Freddie geken het, voor wie hy grootgeword het, weet met sy foute was hy ‘n seun wat altyd ‘n glimlag gehad het.”

“Hy sou soggens vir al die tannies in die verbyloop goeiemôre skree. Hulle mis hom nou, want nou kan hy dit nie meer doen nie.”

“Maar meeste van alles is my hart leeg, geen oproep Donderdae om te vra ek moet n paar rand cash send nie. Geen oproep om my te vertel hy mis my, geen oproep om my sy moemie te noem of om met sy boetie se dogter te praat sodat sy by haar oom kan skinder nie.”

Loraine sê sy is net ‘n ma sonder ‘n kind wat ‘n duisend vrae het.

“Ek slaap nie, ek probeer net deur elke dag kom en ek wil my kind gaan haal om hom tot rus te laat kom.”

“Ek bid vir elke ouer wat al sonder antwoorde ‘n kind aan die dood moes afstaan. Ek bid ook vir diegene wat lewens vat, sodat hulle op ‘n punt sal kom waar hulle besef hoe kosbaar ‘n lewe is.”

Loraine het op 12 April op ‘n bus geklim met die hartseer laaste taak wat sy vir haar kind kan doen, om te kyk of sy Freddie se liggaam kan kry, om hom huis toe te neem en hom te begrawe.

“Dit was die hardste dae van my lewe. Elke dag dieselfde paadjie. Ek moes baklei, huil, soebat en smeek, maar het elke oggend met dieselfde gebed opgestaan: Here asseblief laat ek vandag my kind kry.”

“Ek moes met alles in my baklei om almal te oortuig dat die stukkie van ‘n mens wat oor is, myne is. Vandag het God gesê dit is tyd en ek het vir ‘n laaste keer na hom gekyk. En toe ek hom sien, my engelkind, het almal gesien wat ek sien. Dat dit my Freddie is.”

“Nou kan ek hom vir liewe Jesus teruggee. Dis hard, dis die hardste ding ooit, maar ek weet hy is veilig en heel.”

Dan onthou sy met hartseer die keer wat Freddie van Johannesburg na Parys geloop het, totdat sy skoene nie meer sole oorgehad het nie, net om jammer te sê na ‘n stryery tydens ‘n oproep.

“Dit is die kind wat vir ‘n dag in ‘n tuig gaan werk omdat iemand na aan hom nie brood gehad het vir sy dogter nie. Dit is Freddie wat ‘n tien rand wat hy gehad het vir ‘n oom gegee het wat gevra het, al het hy geweet hy het nie nog geld nie.”

“Dit is die kind wat in sy laaste ure gemartel is, verniel is en gelos is vir weke terwyl ons hom soek. Ek word wakker in die nag en ek hoor my kind pleit vir sy lewe. Ek weet hy is nou veilig, maar ek probeer verstaan wanneer het ons as mense so harteloos geword, wanneer het dit so maklik geword om ‘n lewe te neem? Dit is soos iets uit ‘n storie, maar my hartseer werklikheid van pyn. Mens dink dat dit tog nie waar kan wees nie, dat dit ‘n beroep word om ‘n lewe te neem vir geld. Dit is nie meer God se wil nie, maar mens se wil.”

“My seun Freddie Slabberts se lewe was nie perfek nie, maar hy was ‘n goeie kind en ek weet hy kyk af en sê dit gaan ok wees MA, dit is hoe hy was. Hy het hulle reeds vergewe, dit is die hart wat my kind gehad het. En dit is wat ek wil hê almal moet onthou van my seun, sy goeie hart, sy lag en dat hy altyd ander kon laat lag. Deur swaar het hy altyd probeer moed hou en ‘n weg probeer maak.”

“So dit is wat ek wil hou van hom, sy hart van vergifnis.”

En dan sluit hierdie moedige mamma ons gesprek af: “Elkeen, maak nie saak hoe ryk of arm nie, het die reg op lewe.”

Soos wat jy hierdie berig vandag lees, staan Loraine by die begrafnisondernemers en wag vir Freddie se liggaam.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel