Mees gesoekte persoon wat in 2018 ontsnap weer vas na verskeie beweerde misdade

Deel hierdie storie / Share this story

Lesley Chuenyane (29), wat op die polisie se lys van mees gesoekte persone is, is Vrydag 14 April 2023 in Jane Furse, Sekhukhune-distrik in Limpopo deur SAPD-Nebo se opsporingseenheid in hegtenis geneem.

Hy is glo in ‘n gehuurde kamer opgespoor.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê Cuenyane is in 2018 in hegtenis geneem toe hy deur middel van forensiese bewyse met vier verkragtingsake in Nebo met slagoffers tussen 20 en 30 jaar oud verbind is.

Hy word vandat hy in 2018 ontsnap het tot op hede aan verskeie beweerde ernstige misdade in Nebo gekoppel.

Op die betrokke dag van die ontsnapping het ‘n groep verhoorafwagtende gevangenes wat na die gevangenis op Witbank (Emalahleni), Mpumalanga vervoer is, ontsnap deur na bewering uit die diefwering-versterkte venster van ‘n polisievoertuig te ontsnap toe hulle in Laersdrift-polisiëringsarea gestop het.

Boere van die omgewing het gehelp om die ontsnapte verhoorafwagtendes weer aan te keer, maar Chenyane het daarin geslaag om weg te kom en het sedertdien van die gereg gevlug.

Die beweerde misdade waaraan hy na sy ontsnapping gekoppel word, sluit rooftogte en kaping in.

Hy is positief verbind met ‘n beweerde rooftog by Nebo-verkeersdepartement waar twee sekuriteitsbeamptes van hul diensvuurwapens beroof is. Een van die vuurwapens is glo met ‘n wenk in die verdagte se huis op Nebo gevind.

Twee ander sekuriteitsbeamptes is na bewering ook deur hom by Phokwane-kliniek oorweldig en van besittings, wat selfone insluit, beroof.

Die verdagte word glo verder verbind met ‘n kaping van ‘n verkeersbeampte se privaat motorvoertuig terwyl ‘n vuurwapen op hom gerig was. Die voertuig, ‘n VW Polo, is later verlate gevind.

‘n Voormalige klasmaat van Chuenyane het ook deurgeloop toe hy glo ‘n vuurwapen op haar gerig en haar van haar besittings beroof het.

Lt.genl. Themi Hadebe het die arrestasie verwelkom en die lede wat by die arrestasie betrokke was, geprys.

Die verdagte word deur meer as 10 klagtes, wat verkragting, voertuigkaping en roof insluit, in die gesig gestaar.

Hy het reeds op ‘n roofklag in die Nebo-landdroshof verskyn en sal in aanhouding bly tot 5 Mei 2023 wanneer hy vir dieselfde klagte sal voorkom. Hy sal in dieselfde hof op ander klagtes ook verskyn.

Die beskuldigde sal ook in Mpumpalanga in ‘n hof verskyn op ‘n klagte van ontsnapping uit wettige aanhouding.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.