Man steel glo meer as R9 miljoen – gaan aansoek doen vir borg

Deel hierdie storie / Share this story

Evan Mutale, ‘n 44-jarige man, is op 12 April 2023 in Rustenburg in hegtenis geneem. Hy het vir 21 aanklagte van bedrog en drie aanklagte van geldwassery in die Rustenburg-landdroshof verskyn, waarna die hof verdaag is tot 19 April.

Volgens ‘n gekombineerde verklaring van brig. Sabata Mokgwabone woordvoerder van die polisie, en Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, sal hy tydens sy volgende hofverskyning aansoek doen vir borg. Die saak sal ook na die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof oorgeplaas word.

Mutale word daarvan aangekla dat hy na bewering meer as R9 miljoen van Jaira Constructions and Projects gesteel het, waar hy in diens was as ‘n rekenmeester wat verantwoordelik was vir die bestuur van rekeninge, die betaalstaat en die laai van betalings.

Die bewerings dui daarop dat Mutale tussen September 2019 en November 2020 op bedrieglike wyse geld oorgeplaas het na ‘n rekening wat aan ‘n individu behoort wat geen skakels met die maatskappy het nie, maar aan hom bekend is, onder die dekmantel dat hy ‘n diensverskaffer betaal het vir dienste wat aan die maatskappy gelewer is. In die proses het hy glo sy toesighouer bedrieg om die finale oorplasing van geld in sy medepligtige se bankrekening te magtig.

Van die geld wat oorgeplaas is, is glo later na Mutale se bankrekening herlei, wat gelei het tot die geldwassery-aanklagte teen hom.

Die polisie het nie die moontlikheid uitgesluit dat nog in hegtenisnemings kan volg nie. Mutale sal tot sy volgende hofverskyning in polisie-aanhouding bly.

Dr. Rachel Makhari, die direkteur van opgenbare vervolging in Noordwes, en lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het hul dankbaarheid uitgespreek vir die samewerking tussen die vervolgingspan en die SAPD.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel