Verdagte wat glo gewese meisie noodlottig wond, in hegtenis

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Verdagte (27) van Dzingidzinge-woonbuurt in Giyani, Mopanie-distrik, Limpopo, is vandag in hegtenis geneem vir die dood van Nokuthula Sithole (23), sy gewese meisie, wat Saterdag 8 April 2023 ongeveer 03:00 na bewering met ‘n steen aangerand en oorlede is.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die beweerde verdagte is vandag in hegtenis geneem nadat hy homself aan Giyani-polisie oorhandig het.

Hy het eers na Malamulele-polisiëringsarea gevlug, waarna ‘n familielid hom na die polisiestasie in Giyani vergesel het.

Daar word beweer dat die slagoffer en ‘n vriendin van ‘n plaaslike taverne onderweg was huis toe, toe hulle haar gewese kêrel gekry het. ‘n Konfrontasie het glo tussen die twee plaasgevind, waarna die verdagte na bewering die slagoffer met ‘n steen aangerand het.

Haar vriendin het om hulp geskree en na nabygeleë huise gehardloop. Toe sy terugkom by haar vriendin het dié reeds haar bewussyn verloor. Die verdagte was glo nêrens te vinde nie.

Die slagoffer is na ‘n hospitaal gehaas waar sy aan haar beserings gesterf het.

Polisie is in kennis gestel en ‘n moordsaak is geopen, waarna daar dadelik na die verdagte begin soek is totdat hy homself oorhandig het.

Hy sal vir ‘n klag van moord in die Giyani-landdroshof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel