‘n Tienerseun (17) is doodgeslaan nadat hy daarvan beskuldig is dat hy sy eenjarige sussie verkrag het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) het Saterdag ‘n oproep om hulp ontvang na die lewelose liggaam van ‘n tienerseun in ‘n bebosde pad ontdek is.
Met paramedici se ondersoek kon hulle vasstel die seun is regoor sy lyf beseer voor hy aan sy beserings dood is.
Die seun het na bewering Vrydag sy eenjarige sussie verkrag en ná die voorval gevlug.
Sy ma, drie van haar broers en ‘n 17-jarige buurman, het die seun toe glo by sy pa se huis opgespoor. Hulle het sy hande met ‘n ketting en ‘n slot agter sy rug vasgebind en hom in die huis begin aanrand voor hulle hom buitentoe gesleep het. Lede van die gemeenskap het toe ook deel van die aanranding geword.
Die sleutel vir die slot is toe aan die polisie oorhandig. Vyf mense, insluitend die tienerseun se ma, is na die Verulam-polisie geneem vir ondervraging.
Die tienerseun is ook daarvan beskuldig dat hy ‘n ander minderjarige kind in die area verkrag het.
‘n Moordsaak word ondersoek.



