Die regering het die onttrekking van die nasionale rampstoestand wat verband hou met die land se energiekrisis aangekondig.
Solidariteit het regstappe in gestel teen die regering om dié ramptoestand te beëindig.
In ʼn regsbrief aan Solidariteit het die staatsprokureur bekendgemaak dat die ramptoestand oor die energiekrisis vandag teruggetrek gaan word. Verder word versoek dat Solidariteit sy hofaansoek om dié ramptoestand te skrap, terugtrek.
Dirk Hermann, Solidariteit-bestuurshoof, het in ‘n verklaring gesê hierdie skrywe is volgens Solidariteit die direkte gevolg van sy volgehoue druk en dit is “duidelik dat die regering geen kans op sukses in die hof gestaan het nie.”
Hermann sê die onttrekking van die ramptoestand minder as twee maande nadat dit ingestel is, dui daarop dat Solidariteit van die begin af reg was om aan te voer dat die ramptoestand bloot politieke teater is.
“Al die instrumente wat benodig word om die kragkrisis op te los, is al vir jare in die regering se hande. Die regering se onbevoegdheid of onwilligheid om dit te gebruik is die groter ramp. ‘n Slegte vakman met ʼn groter hamer gaan nie tot gevolg hê dat hy beter werk doen nie,” stel Hermann dit.
Solidariteit voer aan dat die jongste mislukte pogings deur die regering om weer oppermagtig dié krisis alleen te probeer oplos, die doodskoot is vir die idee dat die regering alleen Suid-Afrika se krisisse kan oplos.
“Die oplossing lê in afwenteling van mag. Die energie-oplossing lê in grootskaalse kleinskaal-opwekking. Dit lê op miljoene dakke eerder as in enkele Uniegebou-gange,” verduidelik Hermann.
Solidariteit doen weereens ’n beroep op die regering om uit die pad te tree sodat die private en gemeenskapsektor die kragkrisis kan oplos.
“Die regering moet homself nou bloot daarop toespits om alle belemmerende regulasies te skrap sodat enigiemand wat elektrisiteit wil opwek en verkoop, dit maklik kan doen,” sluit Hermann af.



