Vicky Kruger (17), ‘n matriekleerling van Hoërskool Adamantia in Kimberley, wat ‘n finalis vir Mej. Addie is, is besig met twee projekte wat haar na aan die hart lê.
Dit is die eerste keer wat hierdie tiener so ‘n tipe kompetisie aanpak. Elke finalis moet ‘n projek deur die jaar doen.
Sy verklap ook bietjie meer van haarself en sê dat hotelbestuur haar gunstelingvak is. Sy hou daarvan om te lees en om met kinders te werk en is verder by die skool se koerant en radiostasie betrokke.
“Ek is ‘n ekstrovert en lewer baie vinnig my opinie, maar ek het ‘n klein hartjie en ek voel mens moet opreg en jouself wees.”
Een van die projekte wat sy aangepak het, is vir Katy (5) van Christiana wat nadat sy Desember 2022 ‘n virusinfeksie opgedoen en dit amper haar lewe gekos het, in Kimberley-hospitaal in die intensiewesorgeenheid beland het.
“Sy raak daagliks sterker, maar daar is nog ‘n lang pad voor. Sy moet van voor af leer loop, toilet gebruik, eet en praat (wat baie goed vorder).”
“Ek en Katy het dieselfde tipe belangstellings, soos byvoorbeeld, unicorns,” lag Vicky.
Haar ander projek is Destiny House. Dit is ‘n plek van veiligheid vir kinders wat weens verskeie redes wetlik van hul ouers weggeneem is.
Sy skud Saterdagoggende blik om geld in te samel vir beide hierdie projekte en word deur haar jonger broer Wynand (10) bygestaan.
Die geld is vir Destiny House om onder meer benodigdhede soos kos, klere, doeke, skoonmaakprodukte te kan aanskaf. En vir Katy sodat daar ook vir haar doeke gekoop kan word, omdat die hospitaal net tot by nr. 4 in voorraad het en Katy ‘n nr. 5 dra. Vicky ondersteun verder Katy se mamma met geld vir oorslaap of om ‘n ordentlike bord kos te kan hê wanneer sy by Katy wil wees.
Vicky verduidelik dat sy gereeld vir Katy gaan kuier om haar ma te ondersteun en dat die twee so ‘n hegte band gevorm het dat Katy sommer huil wanneer Vicky moet gaan.
Jana Scherman, Vicky se ma, sê kinders lê haar baie na aan die hart en dat sy ongelooflik lief is vir hulle en wat sy doen. Dit is ook waarom sy vir Mej. Addie ingeskryf het, om haar die platform te gee om hierdie tipe projekte te kan doen.
Vicky glo beslis aan beauty with a purpose!
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



