Riana Pretorius, die 30-jarige ontvoerinsslagoffer van Gqeberha in die Oos-Kaap wat op 16 Maart 2023 buite haar werksplek in Newton Park Gqeberha ontvoer is, is veilig tuis soos reeds berig is.
Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder vir die Valke se direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, het vanoggend in die vroeë oggend-ure ‘n verklaring uitgereik.
Na bewering is die slagoffer deur drie gewapende verdagtes oorval wat haar in ‘n wit Toyota Corolla ingedwing en met haar weggery het.
Nadat ‘n berig oor die voorval op interne polisieradio’s uitgesaai is, het blitspatrollielede die voertuig op Ou Grahamstad-weg in Gqeberha gesien.
‘n Jaagtog het plaasgevind waarna Xolisile Rawutini (39) binne die voertuig gevind en onmiddellik in hegtenis geneem is. Nog twee verdagtes het uit die voertuig gespring en die nabygeleë bosse ingehardloop.
Kort daarna is ‘n 9mm-Norico-pistool is in die nabygeleë bosse gevind. Tydens verdere soektog in Rawutini se woning in Motherwell Gqeberha is nog ‘n vuurwapen onder sy bed gevind, waarvan die reeksnommer afgevyl was.
Hy het intussen op die 20ste en 24ste Maart in die Gqeberha New Law-landdroshof verskyn. Die saak is tot 5 April vir ‘n formele borgaansoek uitgestel.
Onbewese beweringe het intussen kop uitgesteek.
FiND iT het Chris Breedt, wat ‘n Facebook-plasing gemaak het oor beweringe van ‘n persoon naby aan Pretorius se betrokkenheid in haar ontvoering, gekontak. Hy het die plasing op sosiale media egter verwyder. Skermskote van die plasing is egter toe reeds geneem en op sosiale media versprei.
FiND iT het ook ná die beweringe Luister FM genader. Die persoon oor wie die bewerings was, het op sy Facebook-profiel aangedui hy werk by die stasie. Die Facebook-profiel is ook intussen verwyder.
Vicki Stone van Luister FM het soos volg per e-pos gereageer:
Goeie môre Wanda
Dankie, vir jou e-pos.
Die gebeure waaraan Riana Pretorius onderwerp is, was gruwelik en tragies. Luister FM is baie dankbaar dat sy veilig aan haar familie en vriende terugbesorg is.
Dit gesê, hierdie gebeure is nie verwant aan Luister FM, of enige iemand wat met Luister FM geassosieer word nie.
Luister FM kan net bevestig dat die bewerings wat teen Carel du Preez gemaak is, heeltemal ongegrond, onwaar en bloot vals is. Riana Pretorius, haar familie en vriende het genoeg deurgeloop en hierdie volgehoue mishandeling van haar geliefdes se behoeftes moet stop. Hulle het tyd nodig om te herstel en te genees.
Kontak my gerus met enige navrae.
Dankie,
Vriendelike Groete
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



