Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het twee lewenslange vonnisse opgelê aan die dubbelmoordbeskuldigde, Zandre Swartz, wat die aand van 1 November 2019 ‘n egpaar by Kalbalskraal- informele nedersetting in Malmesbury doodgeskiet het.
Die 31-jarige beskuldigde is Donderdag gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die dubbele moord, poging tot moord en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Benewens die dubbele lewenslange vonnis is hy ook agt jaar vir poging tot moord, 20 jaar vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ses jaar vir die onwettige besit van ammunisie gevonnis. Al die vonnisse sal samelopend met lewenslange tronkstraf uitgedien word.
Voor die vonnisoplegging het die regter Swartz beskryf as iemand wat nie berou het oor die gruwelike misdade wat hy gepleeg het nie en geen tekens getoon het dat hy gerehabiliteer kan word nie.
Swartz is ook bekend as ‘n bendelid van ‘n groep bekend as Convicts. Die ondersoekbeampte, speurdersersant Zaliseka Hlatshaneni, is deur regter Samela vir goeie werk geloof. Hy is ook geloof deur die ouers van die oorledenes en lt.kol. Kumbulele Ntongana van die provinsiale speurders verbonde aan SVC.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



