‘n Duitse toeris (67) en sy vrou is na bewering Saterdag 18 Maart 2023 omstreeks 00:45 in ‘n gastehuis in die Oos-Kaap, beroof.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder sê die egpaar het glo in ‘n gastehuis in Addo geslaap toe hulle wakker gemaak is.
Vier verdagtes, gewapen met onbekende voorwerpe, het glo toegang tot die kamer forseer en die egpaar gedreig.
Die man het oop wonde aan sy kop opgedoen toe hy probeer het om die deur toe te maak.
Die verdagtes het met buitelandse valuta, kontant, paspoorte en ander persoonlike eiendom gevlug.
‘n Taakspan is onmiddellik op die been gebring waarna spoedige arrestasies om 11:30 in Nomathananqa-woonbuurt gemaak is.
Inligting wat onvang is, is dat ‘n 27-jarige verdagte probeer het om buitelandse valute te ruil.
Twee ander verdagtes, onderskeidelik 29 en 31 jjaar oud, is kort na die eerste in hegtenis geneem.
Die meeste van die gesteelde eiendom is teruggevind.
Die onmiddellike saamstel van ‘n taakspan kort nadat die egpaar beroof is, het gelei tot die spoedige inhegtenisneming van drie verdagtes en die terugvind van die gesteelde items.
Die verdagtes word aangehou op ‘n aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en sakeroof.
Hulle sal na verwagting Maandag 20 Maart 2023 in die Kirkwood-landdroshof verskyn.
Genl.maj. Xolani Xawuka, die Sarah Baarman-distrikskommissaris, het die uitstekende spanwerk van die taakspan geprys.
“Toerisme hou ‘n beduidende maatskaplike voordeel vir ons land in en misdaad kan potensiële besoekers afskrik om na hul gewenste bestemmings te reis. Dit kan ook die reputasie van sekere bestemmings negatief beïnvloed en daarom moet ons as wetstoepassers alles in ons vermoë doen om die veiligheid van ons toeriste en burgers te verseker om ons provinsie en land te bewaar en te beskerm. Ek verwelkom die vinnige reaksie van ons lede wat elke beskikbare hulpbron en intelligensie gebruik het om sulke spoedige arrestasies te bewerkstellig.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



