Vroeër vandag is drie persone dood en een ernstig beseer toe ‘n vragmotor waarin hulle gery het op die N12, ongeveer 500 meter van Wolmaransstad, teen ‘n boom vasgery het.
TAC-Pulse ERS se gevorderde lewensondersteunende paramedici is na die toneel.
Na bewering het die bestuurder van die vragmotor beheer verloor, van die pad af gery en teen ‘n boom vasgery. Drie van die insittendes van die vragmotor het in die wrak vasgesit en is op die toneel dood verklaar.
Die vierde insittende kon uit die vragmotor spring voordat dit die boom getref het. Dié passasier is ernstig beseer en is onder die toesig van gevorderde lewensondersteunende paramedici na ‘n privaat hospitaal in Klerksdorp geneem.
Die vragmotor is glo direk na die ongeluk deur omstanders besteel.
Die toneel is vir ondersoek aan forensiese deskundiges en die Womaransstad-polisie oorhandig.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



