Dit is volgens Solidariteit onbillik en absurd om van polisiebeamptes te verwag om as tolke op te tree vir slagoffers wat verklarings in ʼn taal, anders as Engels, wil aflê. Dit volg nadat die Wes-Kaapse polisiehoof, luitenant-generaal Thembisile Patekile, ʼn opdrag gegee het wat vereis dat alle A1-verklarings en amptelike dokumentasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) voortaan in Engels moet wees.
Solidariteit is van mening dat dit verregaande en onverantwoordelik is om van die reeds oorwerkte polisiebeamptes te verwag om as tolke op te tree en verklarings in die reël te vertaal, terwyl nóg die beampte nóg die slagoffer noodwendig oor die nodige taalvaardigheid beskik om die akkuraatheid van die vertaling te beoordeel.
“Wanneer klagte by ʼn polisiekantoor ingedien word – veral in die geval van strafregtelike klagte – is die akkuraatheid van die inhoud van ʼn verklaring ononderhandelbaar. Dit gaan nie bloot net oor die oorhoofse feite en om die idee oor te dra nie, maar oor die fyn nuanses. Om te verwag dat mense in gebiede in die Wes-Kaap waar slegs ʼn klein minderheid van die bevolking Engels volkome magtig is nou verklarings in Engels moet aflê, kan tot regsverydeling lei en plaas ʼn totaal onredelike las op ons lede in die SAPD,” verduidelik Ronel Stander, organiseerder vir die openbare sektor by Solidariteit. “Sowat die helfte van die Wes-Kaapse bevolking se eerste taal is Afrikaans en groot persentasies van diegene wie se huistaal nie Afrikaans is nie, is wel Afrikaans magtig, terwyl Engels slegs 20% van die mense in die Wes-Kaap se eerste taal is. Hierdie beleid hou hom totaal blind vir hierdie werklikhede en die geweldige praktiese implikasies van só ʼn onsinnige reël.”
Solidariteit verduidelik dat, na sy kennis, nie een van sy lede of enige ander beampte, al ooit enige opleiding ontvang het om sodanige diens te kan lewer nie en dat die SAPD boonop geen moeite gedoen het om kundiges by polisiekantore te plaas om so ʼn rol te vervul nie.
“Mense wat verklarings by die polisie aflê, is dikwels reeds getraumatiseerd en verbouereerd, wat die proses van ʼn verklaring afneem reeds bemoeilik. Om in so ʼn situasie die bykomende veranderlike van ʼn verpligte vertaling deur ʼn beampte te vereis, is totaal onwerkbaar. Boonop het die SAPD geen moeite gedoen om beamptes op te lei of om kundiges hiervoor in te kontrakteer nie. Hierdie beleid is op sigself reeds skadelik maar die implementering daarvan gaan totaal verwoestend wees,” stel Stander dit.
Solidariteit het sy regspan reeds instruksie gegee om hierdie aangeleentheid verder te ondersoek om te verseker dat polisiebeamptes nie onredelik benadeel word nie en ook dat reg op geregtigheid van lede van die publiek wat nie Engelssprekend is nie geskend word nie.
“Suid-Afrika het 11 amptelike tale en niemand se reg op toegang tot ʼn doeltreffende regstelsel mag hom of haar ontneem word bloot vanweë die feit dat hulle, of ʼn polisiebeampte, nie ʼn spesifieke taal verstaan nie. Ons lede werk reeds lang ure, dikwels in onveilige areas. Hulle benodig glad nie sulke belaglike instruksies om hul werk nou nog moeiliker te maak nie,” sluit Stander af. – Solidariteit
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



