TLU SA lê strafregtelike klag teen Julius Malema en plaas regering op terme oor ‘voorgenome sabotasie en terreur’

Deel hierdie storie / Share this story

“Die EFF se dreigemente om die ekonomie op 20 Maart te saboteer, is niks anders as ‘n voorneme van terreur en dus hoogverraad nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “En sou die regering nie voldoende optree om die veiligheid van mense, eiendom en die ekonomie tydens hierdie aksie te beskerm nie, is dit eenvoudig ‘n grondwetlike pligsversuim.”

TLU SA het Vrydag ‘n strafregtelike klag teen die leier van die EFF, Julius Malema en die party in terme van die Wet op Beskerming van Grondwetlike Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite (Wet 33 van 2004) aanhangig gemaak. Die organisasie het verder ook ‘n skrywe aan die regering gerig om uit te klaar hoe die staat beoog om die situasie te stabiliseer en die lewe en besittings van diegene wat nie aan die EFF se protesaksies deelneem nie, teen sabotasie te beskerm.

“Na ons mening moes die regering rééds ingegryp en die EFF en Malema tot orde geroep het,” verduidelik Van Zyl. “Dit is onaanvaarbaar dat Malema en sy partylede enigsins toegelaat kan word om steeds in die parlement te sit, terwyl hul hulself openlik skuldig maak aan terreurdade.

“Dit is die EFF se grondwetlike reg om protes aan te teken, mits sodanige aksie geen ander persoon, bates of die ekonomiese proses enigsins bedreig nie. Maar in hierdie geval is daar egter blatante dreigemente teen diegene wat bereid is om verantwoordelik op te tree en op die dag te gaan werk.”

“Die regering sal by gebrek aan optrede om dit te verhoed – terwyl hulle deeglik bewus was van die bedreiging – aanspreeklik gehou word vir alle skade berokken.”

TLU SA-lede sal wel voortgaan met hul werksaamhede om sodoende ‘n bydrae te maak om die land se inwoners te voed. Dit is ons verantwoordelikheid wat ons deur al die jare getrou nakom.