Twee leerlinge dood, drie kritiek, vyf ernstig, nog beseer toe vragmotor en twee minibustaxi’s bots

Deel hierdie storie / Share this story

Twee leerlinge van die Gekombineerde Skool Greendale is gisteroggend dood toe hulle minibustaxi, hul skoolvervoer, in ‘n botsing met twee ander voertuie op die N4 tussen Vosman en Emalahleni, Mpumalang, betrokke was.

Die departement vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling het die voorval bevestig.

Die departement van onderwys in die provinsie sê die twee minibusse het leerlinge van Ezinambeni na Laerskool Duvha, Laerskool Tasbet, Sekondêre Skool Ilanga, Gekombineerde Skool Greendale en Sekondêre Skool TP Sililo, vervoer.

Twee minibustaxi’s en ‘n vragmotor was in die botsing betrokke. Na bewering het een van die minibusse ‘n pap band gehad en stilgehou. ‘n Ander taxi het hom probeer help toe ‘n vragmotor van agter in een van die taxi’s vasgery het. Dié taxi is toe in die ander taxi in gestamp.

Die twee leerlinge van die Gekombineerde Skool Greendale het aan hul beserings gesterf en is op die toneel dood verklaar. Drie ander leerders is kritiek beseer en vyf ander ernstig, terwyl die res geringe beserings opgedoen het. Al die beseerde leerlinge is na hospitale vervoer vir nodige mediese behandeling.

LUR Majuba het sy hartseer uitgespreek oor die skokkende nuus. Simpatie is aan die kinders se families betuig en ‘n spoedige herstel dié wat in hospitale is, toegewens. Die familie en skool van die oorledenes sal vandag besoek word.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel