‘n Man (44) en sy makkers, ‘n man van Lesotho (35) en ‘n man van Mosambiek (28), wat vermoedelik verbind kan word met die opblaas van OTM’e in en rondom Gauteng, is gisteroggend in Tembisa deur die polisie se Taktiese Reaksie Eenheid (TRT – Tactical Response Unit) in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê lede het inligting opgevolg toe hulle die eerste verdagte geïdentifiseer het. Hy is gekonfronteer, waarna gevlekte geld in die kattebak van sy voertuig gevind is.
Sy twee makkers is by ‘n huis in die omgewing in hegtenis geneem, waar nog gevlekte geld, asook vier ongelisensieërde vuurwapens, ammunisie en plofstof, gevind is.
Lt.genl. Tebello Mikili, die waarnemende nasionale kommissaris, het Ekurhuleni en Tswhane TRT geprys vir hul suksesvolle arrestasies. Hy het gesê ondersoek sal gedoen word om vas te stel of die verdagtes deel is van sindikate.
Die drie verdagtes sal Maandag in die Tembisa-landdroshof verskyn vir die besit van kleurgevlekte geld, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en plofstof.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



