‘n Pa (21) van Middelplaas buite Malelane in Mpumalanga het glo op 1 Maart 2023 sy drie weke oue baba se keel oopgesny.
Brig. Selvy Mohlala sê die man het glo gedink hy sal met sy misdaad wegkom.
Na bewering het hy, in die geselskap van vier vriende, die babaseun van sy 15-jarige ma weggeruk en met hom gevlug.
Sy en haar familie, wat nie dadelik die voorval by die polisie kon rapporteer nie, het glo onmiddellik na die baba begin soek.
Hulle is die volgende dag na die Schoemansdal-polisie waar hulle die voorval aangemeld het, omdat hulle ‘n vermoede gehad het iets is nie pluis nie.
Polisielede het dadelik na die verdagte begin soek om die babaseun met sy ma te herenig.
Inligting is ontvang dat die lewelose liggaam van ‘n kind ‘n paar meter van ‘n waterreservoir en dieseldepot op Middelplaas in die bosse gevind is.
Die babaseun, met ‘n oopgesnyde keel, is in ‘n bebloede kombers en handdoek gevind.
By verdere ondersoek is inligting gekry dat die verdagte glo by sy oom se plek te Kamaqhekeza, buite Komatipoort, met ‘n sak vol klere opgedaag het.
Die inligting is opgevolg en Schoemansdal-polisielede het hom gister, 2 Maart, by die huis gevind, waarna hy in hegtenis geneem is.
Hy sal vir ontvoering, moord, regsverydeling en statutêre verkragting aangekla word.
Maj.genl. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris van Mpumalanga, het die grusame moord veroordeel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



