Lewenslank vir skuldige wat 70-jarige verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

Thabo Mathibe (28) is lewenslange tronkstraf in die Temba-landdroshof vir die verkragting van ‘n 70-jarige vrou opgelê. Hy het ‘n bykomende vonnis van 10 jaar vir huisbraak ontvang en is ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Henry Mamothame, NVG-woordvoerder vir Noordwes, sê die skuldigbevinding volg na die voorval wat op 9 Februarie 2019 in Mathibstad naby Temba plaasgevind het.

Die veroordeelde het by die huis van die slagoffer, wat saam met haar twee kleinkinders was, ingebreek. Hy het haar na buite die huis gesleep en haar aangerand terwyl hy haar verkrag het.

Bure het haar hoor skree en het haar te hulp gesnel.

Mathibe is op die toneel aangekeer, waarna die polisie gebel is wat hom in hegtenis geneem het.

Hy het vir die tydperk van die verhoor in aanhouding gebly.

Tebogo Mosito, die staatsaanklaer, het suksesvol aangevoer dat die hof nie van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank moes afwyk nie. Hy het voorts aangevoer dat die slagoffer se waardigheid geskend was.

Gilbert Sono, die landdros, het saamgestem, waarop hy die vonnisse gevel het.

Die direkteur van openbare vervolging in Noordwes het die spanwerk deur die NVG, polisie en bure van die slagoffer geprys vir hul rol om die skuldige voor die hof te bring.

“This conviction was made possible by the swift action of community members and such should re-enforce our advocacy against crime in our communities,” het sy gesê.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel