Elské de Villiers (17), ‘n matrikulant van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, is ‘n lewenslustige blou-oog jong meisie wat onlangs met ‘n skok moes hoor sy het kankergewasse.
Hierdie is ‘n terugslag vir die hokkiedoelwagter wat vir die afgelope twee jaar vir die eerste span speel. Haar tannie Alicia het vir FiND iT gesê Elské se vrees is om nie meer hokkie te kan speel nie.
As die oudste kind van drie word sy beskryf as ‘n skaam jong meisie met ‘n sagte hart wat oral waar sy gaan geliefd is.
In Januarie vanjaar het sy begin sleg voel en haar buik het geswel. Op 30 Januarie is sy dokter toe.
“As dit nie vir ‘n val van ‘n trap by die skool was nie, sou ons nooit geweet het dat sy siek is nie. Sy sou ook nie so vinnig gediagnoseer gewees het nie, omdat sy geen simptome gehad het wat aangedui het iets is fout nie. Ons dink die val het die siektetoestand vinniger aangehelp. A blessing in disguise.”
Die dokter het dadelik tydens ‘n sonar gewasse waargeneem, waarna Elské na Sebokeng-staatshospitaal verwys is.
Hulle het by die hospitaal vog uit haar long dreineer en X-strale geneem. Op die tweede dag was daar nie ‘n bed beskikbaar nie en sy is die aand om 22:00 huis toe gestuur.
Met dié wat hulle niks wyser geword het nie, is sy na ‘n dokter by Cornmed-hospitaal in Vanderbijlpark geneem wat haar na ‘n internis, dr. Mentor, verwys het.
Hierna het ouers en spanmaats met fondsinsamelingsprojekte begin sodat Elské verdere mediese behandeling kon ontvang. Sy kon bloedtoetse, sonars en ‘n CT-skandering laat doen.
Na die toetse is sy na ‘n ginekoloog in Vanderbijlpark verwys, waar sy die gevreesde nuus moes hoor dat sy op ‘n baie jong ouderdom kankergewasse aan beide eierstokke het. Die prognose is verwydering deur ‘n histerektomie sodat die kanker nie moet versprei nie.
Op Dinsdag 21 Februarie is Elské dus in Sebokeng-staatshospitaal opgeneem om weereens vog van haar longe te laat dreineer. As alles volgens plan verloop het, sou sy op 23 Februarie geopereer word en dalk reeds by die huis gewees het om aan te sterk. Dan sou bepaal word watter tipe chemoterapie nodig is.
Of so het hulle gedink, sou die plan verloop. Nadat Elské vir ‘n uur in die teater gelê het, het nog niks gebeur nie omdat vir ‘n bed in die intensiewesorgeenheid gewag is en beurtkrag ingetree het.
Elské is ontslaan om net weer dieselfde pad volgende week te moet stap. Sy en haar familie is platgeslaan.
Elské is nie ‘n lid van ‘n mediese fonds nie en haar ouers, spanmaats en gemeenskap wil saamstaan met fondsinsamelingsom haar te help. Verskeie projekte word geloods en elke persoon wat kan, word gevra om hulle te ondersteun. Die projekte word of Facebook, Instagram en WhatsApp geadverteer.
Daar is reeds ‘n weldoener wat na vore gekom het sodat hierdie moedige jong meisie Maandag vir ‘n tweede mening by ‘n privaat ginekoloog kan uitkom.
Alicia sê ongeveer R250 000 moet ingesamel word sodat Elské so gou as moontlik hierdie operasie kan ondergaan. Sy sê dit is ongelooflik hoe mense vir Elské ondersteun, al ken hulle haar nie eens nie.
Elské ervaar soms rugpyn, maar is baie ongemaklik met die baie water wat swelling in haar maag veroorsaak. Die familie vra vir gebed en noem pertinent hul slagspreuk: “Kanker het met die verkeerde meisie kom sukkel”

Die familie werk nie self met die fondsinsamelingsprojekte nie. Die volgende persone kan gekontak word: Cynthia Marais Bekker 079 883 6475 en Zonicka van Heerden 082 909 0929
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



