Die polisie in Somerset-Wes ondersoek ‘n ontvoeringsaak nadat ‘n baba van ses maande oud Maandag 5 Desember vermis geraak het.
Kapt. Nowonga Sukwana, polisiewoordvoerder, sê volgens verslae het ‘n oppasser na ‘n sewejarige dogtertjie en die baba van ses maande oud gekyk. Sy het ‘n vrou ontmoet wat aangebied het om vir die kinders kos te koop, en die oppasser het die kinders aan die vrou oorhandig. Die vrou is met die kinders vort en het haar handsak by die oppasser gelos as versekering dat sy sou terugkom.
Die vrou het nooit teruggekeer nie. Die sewejarige dogter is naby die oppasser se huis gevind, maar die baba is steeds vermis.
Die polisie poog sedert Desember om die baba op te spoor, maar het nog geen sukses gehad nie.
Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand wat inligting het of kan help om die baba veilig op te spoor, om sers. Asanda Hlana by 082 301 8910 te kontak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



