Seun (11) met breinsist se volgende toetse lê voor

Deel hierdie storie / Share this story

Juan Nel (11), een van ‘n tweeling, is laasjaar Februarie met ‘n aragnoïedsist (spinnerakagtige sist) in sy brein wat tussen sy oor en sy oog sit, gediagnoseer.

Volgens sy ma, Angelique du Plooy, is dit basies ‘n “watersak” wat drukking veroorsaak. Hy sukkel dus geweldig met hoofpyne, migraine, neusbloeding en ander komplikasies soos sy spraak wat reeds aangetas is.

Hy is tans in gr. 5, in die Carpe Diem- spesiale skool op George

Juan is verlede jaar Kaap toe om deur ‘n pediatriese neuroog ondersoek te word. Toetse het gewys dat die sist nog nie lewensgevaarlik is nie en hy kon toe dus net voortgaan met sy daaglikse bestaan.

Die neuroloog het wel ‘n CT-skandering vir Januarie 2023 voorgestel om te kyk hoe dit gaan en te bepaal wat die volgende stap moet wees.

“Om te sny, hou vir Juan risiko’s in en om die sist te los, ook,” was die gevolgtrekking.

Die moedige seun was intussen weer by sy pediater op George, wat voorgestel het dat sekere toetse nou weer herhaal word, omdat sy kopsere nie wil weggaan nie. Die toetse sluit ‘n EEG en ‘n breinskandering in.

“Hy lê in die nag en verstik in sy bloed wanneer sy neus begin bloei.”

Sy bed is reeds bespreek om die toetse wat laasjaar gedoen is, te herhaal en dan te besluit wat gaan volgende gebeur. Juan ontvang tans net sinusmedikasie vir die neus wat bloei en pynmedikasie vir sy hoofpyne en migraine.

Dan verduidelik sy dat Juan disleksies is, hy het ADHD en is boonop op die outismespektrum en moet deurentyd gestimuleer word.

“Hy is ‘n besige kind wat heeltyd iets wil doen, maar ons moet hom ook probeer rustig hou.”

Foto’s: Verskaf

Mamma Angelique, wat werkloos is, verkoop haarknippies om ekstra onkostes te dek en vir items om Juan in die hospitaal besig te hou, aan te skaf.

“Ek verkoop haarknippies basies maar net om te help en aan te vul om die lewe vir hom bietjie makliker te maak,” sê Angelique.

“Omdat mense nie sommer donasies gee nie en skepties is, wat ons verstaan, vra ons nie vir donasies nie, maar verkoop eerder knippies. Hulle betaal vir iets wat hulle kry.”

Die knippies kan ook gebruik word om honde te laat mooi lyk.

Angelique is ook geraak deur die Covid-tydperk waartydens sy haar werk as enkelma verloor het en moet die beste doen wat sy kan vir haar vier kinders.

Indien jy van die knippies wil bestel, kan Angelique by 0744628757 gekontak word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel