Wendy Kloppers (48) is op 16 Februrie by die Power Construction N2 Gateway perseel in Delft, Kaapstad doodgeskiet.
Sy het vir die Stad Kaapstad se Departement Omgewingsake gewerk.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê Delft-polisiestasie het na ‘n klagte op die hoek van Magalies- en Mandarastrate gegaan.
Die liggaam van ‘n vrou met verskeie skietwonde is binne ‘n voertuig gekry.
Sy is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.
Nog ‘n vrou wat in die voertuig was, is raakgeskiet en is vir mediese behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Geen arrestasies is gemaak of motief vir die aanval vasgestel nie.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord en poging tot moord.
Women For Change sê Kloppers is doodgeskiet terwyl sy in ‘n voertuig gesit en wag het.
Sy en ‘n passasier het glo gewag dat ‘n sekuriteitswag ‘n hek oopmaak na die konstruksieperseel toe. ‘n Onbekende manspersoon het na bewering die voertuig te voet genader.
Hy het glo verskeie skote aan die bestuurderskant van die voertuig afgevuur.
Kloppers het na bewering probeer ontstnap deur in die hek vas te ry om die perseel binne te gaan vir veiligheid.
Die vermeende verdagte het blykbaar per motor van die toneel gevlug.
Die passasier wat saam met Kloppers in die motor was, is in die arm gewond.
Kloppers is glo een van vyf persone wat in ‘n week op die betrokke perseel op geskiet was.
Die Stad Kaapstad het ‘n beloning van R100 000 aangekondig om die skuldige(s) vas te trek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



