‘n Onbekende man is gister dood nadat hy onregmatig toegang verkry het tot die Sekondêre Skool Kagiso in Gauteng en ‘n onderwyser aangeval het.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gauteng-onderwysdepartement, sê in ‘n verklaring die man het na bewering toegang verkry toe die hoofhek op ‘n afstand oopgemaak is vir ‘n motor om by die skool in te ry.
‘n Patrolleerder wat by die hek aan diens was, het sonder sukses probeer om die man te keer. Die man is na die administrasieblok waar hy glo in ‘n histeriese toestand geëis het om die skoolhoof te sien. Hy is meegedeel dat die skoolhoof hom nie op die betrokke oomblik kon sien nie omdat hy elders in ‘n vergadering was. Die man het glo ‘n mes te voorskyn gebring en ‘n onderwyser in die hand gesteek. ‘n Ander onderwyser het hom na bewering hierna geskiet. Die man is noodlottig gewond.
Die polisie ondersoek die voorval.
Leerlinge van die skool is na die skoolsaal geneem en later laat gaan omdat hulle onrustig geraak het.
Die departement se psigo-sosiale eenheid sal Maandag 6 Februarie die skool besoek om berading aan onderwysers sowel as leerlinge te bied.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



