Beweerde multimiljoenrand-goudsmokkelring vas

Deel hierdie storie / Share this story

Sewe vermeende verdagtes en drie maatskappye staan tereg op klagtes van diefstal, onwettige besit van goud en geldwassery.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder vir die Valke in Noordwes, sê Gregory Kevin Fourie en Mbongeni Themba Sithole is gedurende 2019 tydens ‘n ondersoek onderskeidelik in Sebenza en Fochville, Gauteng in hegtenis geneem.

‘n Verbeurdverklaringsbevel is toegestaan vir beslagleggings van R1.3 miljoen wat tydens hul inghegtenisnemings plaasgevind het.

Die arrestasies en beslagleggings het gevolg na ‘n ondersoek toe goud ter waarde van R35 miljoen in 2019 van ‘n vragmotor in Stilfontein geroof is.

Die ondersoekers het Sithole in ‘n woning op Fochville in hegtenis geneem. Tydens deursoeking van die eiendom is verskeie goudtransaksiefakture en ongeveer R510 000 in kontant gevind.

Van daar het die ondersoek na ‘n eiendom in Sebenza gelei waar onbewerkte goud ter waarde van R300 000 gevind is. ‘n Verdere R861 240 is in ‘n vals kompartement van ‘n kompressor gevind. Daar is op verdere goudtransaksiefakture afgekom. Beslag is gelê op selfone vir verdere ondersoek en Fourie is in hegtenis geneem.

Die smokkelring is op 11 November 2021 ontbind, toe die uitvoering van toegestane deursoekings- en beslagleggingslasbriewe by agt eiendomme in Gauteng en drie eiendomme in Mpumalanga plaasgevind het.

Sewe persone, wat drie maatskappye insluit, word deur klagtes van diefstal, onwettige besit van goud en geldwassery in die gesig gestaar.

Genl.maj. Patrick Mbotho, die provinsiale hoof vir die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, het die verbeurdverklaring, asook die werk van die ondersoekers en die nasionale vervolgingsgesag, verwelkom.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.