Vrou (66) ‘hygend’ in lyksak gekry na sy verkeerdelik dood verklaar is

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Tehuis in Des Moines, Iowa, is met $10 000 beboet nadat die tehuis glo ‘n “hygende vrou” in ‘n lyksak na ‘n begrafnisondernemer gestuur het.

Die Iowadepartement van inspeksie en appèl het in ‘n verslag gesê die 66-jarige vrou is op 3 Januarie by die Glen Oaks Alzheimer-sorgsentrum dood verklaar. Die vrou, wie se naam nog nie bekend is nie, het aan vroë demensie, angstigheid en depressie gely en is op 28 Desember by die sorgsentrum opgeneem.

Nadat sy “dood verklaar” is, is sy in ‘n lyksak geplaas en na die Ankeny-krematorium gestuur, berig die Daily Mail.

“Ongeveer 08:26 het personeel die sak oopgemaak en gesien hoe die vrou se bors beweeg en sy na haar asem snak,” lui die verslag.

Werkers het volgens Daily Mail nooddienste van die voorval ingelig, wat met hul aankoms op die toneel ‘n hartklop en vlak asem by die 66-jarige vrou kon waarneem.

Sy is na Mercy West Lakes-hospitaal geneem, waar sy asem gehaal het, maar nie andersins reageer het nie. Die vrou is later na die sorgsentrum teruggeneem, waar sy later, met haar familie by haar, op 5 Januarie oorlede is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel