‘n Onbekende bestuurder van ‘n vragmotor is Donderdag 2 Februarie 2023 om ongeveer 12:40 op die pad tussen Marble Hall en Elandskraal oorlede en sy passasier kritiek beseer toe hy glo beheer oor die vragmotor verloor en dié gerol het.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder van Limpopo, sê lede van Marble Hall-polisiestasie het hul na die ongelukstoneel gehaas nadat ‘n motoris wat agter die vragmotor gery het die polisie van die ongeluk in kennis gestel het.
Op die toneel is gevind dat die vragmotor vol bokse onwettige sigarette gelaai was. Die vragmotorbestuurder en sy passasier het in die kajuit vasgesit en die motoris het probeer help.
Terwyl hy op die toneel gewag het vir die polisie en nooddienste het onbekende verdagtes met ‘n sedan motorvoertuig na bewering op die toneel gestop en die motoris met ‘n vuurwapen gedreig.
Die verdagtes het toe glo die kritiek beseerde passasier met krag uit die kajuit verwyder, in hul voertuig gelaai en weggejaag. Die bestuurder van die vragmotor is op die toneel dood verklaar.
Polisie op die toneel het op 300 bokse onwettige sigarette beslag gelê. ‘n Saak van strafbare manslag en besit van onwettige sigarette is geregistreer.
Die soektog na die verdagtes en kritiek beseerde passasier duur voort.
Enigiemand met meer inligting kan met die polisie kontak maak by Stop Misdaad by 08600 10111 of deur die MySAPS toepassing te gebruik.



Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



