Helga Muller, ma van Marno Muller wat geen bekendstelling nodig het nie, het vir FiND iT gesê dat sy ‘n boodskap aan Suid-Afrika wil stuur.
“Ek is klaar baklei, sê Helga.

Na die traumatiese gebeure waartydens Marno op 26 Mei verlede jaar aan sy baadjie se toutjies by sy kleuterskool gewurg het toe dit aan ‘n klimraam vasgehaak het, was hy in ‘n kritieke toestand in die gespesialiseerde pediatriese afdeling van Garden City Netcare911-hospitaal opgeneem.
Hy was van 26 Mei tot 20 Junie in die intensiewesorgeenheid en van 20 Junie tot 22 Junie in ‘n gewone saal, waar hy twee keer per dag drie verskillende tipes terapie moes ontvang.
Suid-Afrika het letterlik saam met sy ouers asem opgehou en daagliks vir nuus gewag oor hoe dit met hom gaan.
“Marno is my kind, ek was die een wat elke dag vir ure aan sy sy was en met dokters in kontak was, as ek hulle raakgeloop het.”
Marno het mettertyd genoegsaam herstel tot die tevredenheid van sy dokters en is ontslaan sodat hy met sy lewe kon voorgaan, met behandeling soos wat steeds nodig is.
“Dankie Suid-Afrika vir elke gedagte, gebed en al die geldelike hulp wat uit liefde vir Marno gegee is.”
“Ek sit met die mediese verslae van wat my kind nodig het.”
“Gedurende sy hospitalisasie het my suster Nadia boodskappe van hoe dit met Marno gaan, gegee. Sy het die fondsinsamelings geïnisieer en ander reëlings getref. Dit is gedoen soos wat dit haar pas.”
“Ek sal altyd dankbaar wees vir Nadia se hulp. Maar dinge het verkeerd gedraai. Ek haat haar nie. Ek vergewe haar vir die verwoesting wat sy in my en Marno se lewens gesaai het. My lewe en reputasie is verwoes.”
“Die hofsaak sloer al van 25 Julie 2022 af. Dit word telkemale uitgestel en maak my emosioneel moeg. Dit mors boonop my tyd en my geld. Ek wil die saak terugtrek.”
“Ek wil hê Suid-Afrika moet weet dat ek nou heeltemal klaar is.”
“Afgesien van alles bly sy my suster en ek sal altyd lief wees vir haar. Ek het egter tans geen begeerte om haar te sien of die band tussen ons te herbou nie.”
“Ek vergewe jou, Nadia. En ook vir almal wat my beswadder het.”
“Ek is fisies emosioneel leeg en het nie meer krag om te baklei nie.”
“Mense kan my verder slegsê en beskinder, ek gee nie regtig om nie, ek wil nou net vrede en rustigheid in my hart hê.”
“God sal my oordeel, net soos wat ons almal gaan moet rekenskap gee op die oordeelsdag.”
Helga sê aan FiND iT dat sy baie seer is oor die situasie en beskuldigings.
Sy noem dat sy twee keer aanlyn “live” gegaan het. Die eerste keer in Springs en die tweede keer op 3 Junie toe Marno se longe platgeval en sy vir gebede en nie geld nie, gevra het.
“Die belangrikste is dat my kind lewe en by my is.”
Hoe gaan dit met Marno?
“Marno is tans in gr. R en hy gaan binnekort skool toe. By die spesiale skool wat aan sy behoeftes voldoen, sal hy die nodige terapie ongvang vir mediese skade wat hy tydens die ongeluk oorgehou het. Hy het ook onlangs baie dapper sy eerste tand gewissel.”
En dan sluit sy die boodskap af met: “Dankie Suid-Afrika. Liefde Helga.”


Foto: Verskaf








Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



