‘n Leerling (17) is Maandag glo deur ‘n busbestuurder aangerand en gewurg toe hy met ‘n bus skool toe wou ry.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die leerling het glo saam met ander leerlinge in Hoopstad vir die bus gestaan en wag. “Die bus het daar aangekom, gestop en die busbestuurder het ‘n lys met name uitgeroep.”
Volgens kapt. Thakeng was die slagoffer toe glo die laaste leerling wat nog buite die bus was.
Die leerling het probeer om in die bus te klim en het die busbestuurder gevra waarom hy nie kan saamry nie. Die busbestuurder het toe glo die leerling begin aanrand en hom gewurg. “Die leerling het probeer terugbaklei, maar die busbestuurder was sterker,” sê kapt. Thakeng.
Die 56-jarige busbestuurder is in hegtenis geneem en word van aanranding en poging tot moord aangekla. Hy sal Vrydag in die hof verskyn.



