Onthou jy die oomblik toe die nuus oor Hoërskool Driehoek vier jaar gelede gebreek het?

Deel hierdie storie / Share this story

https://fb.watch/iqcqbrPP1P/

Hoërskool Driekhoek Facebook-blad en In Loving Memory of Hoërskool Driehoek Facebook-blad kan besoek word vir video’s van die gedenkdiens.

‘n Tragedie het vier jaar gelede afgespeel toe ‘n voetbrug by Hoërskool Driehoek meegegee en ‘n sementblad op leerlinge geval en hulle vasgekeer het.

Hartverskeurende oomblikke is op video’s en foto’s die wêreld ingestuur. Omstanders het vergeefs probeer om die sementblad op te lig.

Daar was dood en beserings. Vier leerlinge het ongelukkig omgekom. Sommige leerlinge wat beseer was, sukkel steeds.

Vandag, vier jaar later, onthou Hoërskool Driehoek en herdenk die lewens van Royden Olckers, Marnus Nagel, Marli Currie en Jandré Steyn.

Waar was jy in die oomblik toe die nuus gebreek het? Wat onthou jy en wat het deur jou gedagtes gegaan?

#onthouenherbou

Hier is ‘n Facebook-plasing op die groep Driehoek Gebedsgroep vir Jesus Kinders van ‘n leerling, Rolandi Venter wat op 19 Februarie 2019 die tragedie uit haar ervaring beskryf:

My kant van die storie…

Dié wat Vrydag by ons skool (Hoërskool Driehoek) was – die mees tragiese ding wat nog ooit met my gebeur het. Ek is een van die leerders wat NIKS oorgekom het nie. Maar ek het wel als gesien gebeur. Ek was op pad na my registerklas toe waar ek die tragedie gesien en beleef het.

Ek het baie vrae daaroor…
Hoekom ons skool?
Hoekom Vrydag?
Hoekom het dit nie gebeur wanneer niemand daar was nie?
Hoekom daardie kinders?
Hoekom nie ek nie?

Ja, ek weet dis nie my plek om als wat gebeur het te bevraagteken nie, maar hoekom?

Maar dit kon net sowel ek gewees het.

Ek voel ek moet daaroor praat, want dit was die lelikste ding wat ek nog in my lewe gesien het.

Maar die goed wat deur my kop gaan, is hoeveel keer het ek nie oor daardie selle brug gehardloop, spring, loop en selfs gesit nie, hoeveel keer was ek nie al daaroor nie?

Hoeveel keer was ek nie al daar onderdeur nie?

Maar hoekom nie ek nie?

Ja, ek is gespaar met ń goeie doel, maar wat is die doel? Ek weet ek moet wag en sien en dat ek eendag sal weet.

Maar nou gaan ek vir julle my kant van die storie vertel en hoe ek dit beleef het en wat ek kan onthou.

Ek was Vrydag ongeveer 07:15 huilerig skool toe omdat die broek wat ek moes aantrek nie volgens my smaak was nie.

Ek het by die skool soos gewoonlik my vriendin gekry en toe gaan sit ons soos altyd by “ons” bankie onder die boom langs die vierkant.
Ek het vir haar gesê ek moet kantoor toe gaan om vir my ‘n nuwe skoolrok te gaan koop, want ek dra nog die ou skoolklere. Ons het onderdeur daardie brug geloop kantoor toe om te gaan pas. Die tannie het gesê ons moet eerder pouse kom. Pouse het NOOIT gekom nie.

Met die wat ons terugstap na ons bankie toe het die klok gelui en ons het ons huiswerkboekies gekry en saal toe gegaan.

Saal het begin en soos gewoonlik kry ons gr. 11 raas omdat ons aanhou praat. Die hoof het gesê ons moet agterbly want hy wil met ons praat.

Saal het normaal aangegaan.

Toe ons kon verdaag het die hoof gesê ons moet loop hy sal ‘n ander keer praat (maar die rukkie wat ons agtergebly het, het nie net my lewe gered nie, maar AL ons gr.11s’n).

Ek en my vriendin het uit die saal geloop op pad onderdeur die brug na ons klasse toe wat op die 3de verdieping is.

Toe ons ewe skielik iets sien val wat net soos n stuk wit papier gelyk het, ons het wel die kinders sien val van bo af. Die ding wat geval het, het nie so ‘n harde geluid gemaak soos wat’n mens sal dink nie. Dit het geklink soos ‘n speaker wat blaas. Ek het eers gedog dis mense wat op ons skiet, want hoekom sal die kinders van bo af wil spring en die kinders onder plat lê?

(Die het ongeveer 5 meter voor my gebeur) Ek het nader beweeg om te kyk of dit nou rêrig mense is wat op ons skiet…

EN DIS WAAR ALS MY GETREF HET…

Ek het die blok sien lê en selfs van die kinders wat onder hom was.

Ek het in ‘n paniek in die ander rigting gehardloop.
Met al wat deur my kop gegaan het…

Ek moet my pa bel.
Ek wil huis toe gaan.
Ek moet hier weg kom.
Ek soek NOU my ma.

Ek is nie die tipe mens vir bloed en sulke goed nie en ek raak histeries in sulke gevalle. En al wat ek kon doen is hardloop en huil.

Met die wat ek hardloop het ek my vriendin verloor, sy het nog 2 boeties in die skool een gr. 8 en een gr. 9, sy het intussen gehardloop en na hulle gaan soek. (Gelukkig is altwee oky.)

Ek het teruggehardloop na my tas toe waar ek gesukkel het om op my foon te werk om my pa te bel om vir hom te sê hy moet kom help en my hier weg kry.

Terwyl ek sukkel het my kêrel na my toe gehardloop om te kom kyk of ek oky is.

Met die het ‘n Juffrou ons streng teruggejaag saal toe, en met die terugloop het ek meer gesien as wat ek moes.

Ons het op die gras agter die saal by die kantoorhekkie gaan sit en al wat jy hoor is “sit neer jou foon en bid dis al wat ons nou kan doen” “kry jou mense en bid”.
Met die wat ons sit en bid het ek my pa in die hande gekry en al wat hy sê is ek is op pad ek kom.

Dit was die mooiste maar beste woorde wat ek nog gehoor het na die tragedie.

Terwyl ek vir my pa wag bel my familie een vir een om te hoor of ek oky is en al wat ek kan sê is “ek is oky, ek is oky ek het niks oorgekom nie ek is bang oky bye”
Dan begin hulle huil van verligting.

Al mooi wat ek Vrydag gesien het was die huilende, stressende mammas wat die hek instorm op soek na haar eie kind en as sy haar kind kry daar trane vloei van verligting en dankbaarheid.

Eh het my skooltas by die skool gelos want ek wou nie weer die tragiese goed sien nie.

My pa het eers gaan kyk waar hy kan help voor hy my en my ander vriendin huis toe gevat het, van die huis af is ons reguit hospitaal toe dat hulle vir ons iets kan gee om te kalmeer want ek het heeltemal my kop verloor…

By die hospitaal kom ander kinders se mammas wat jy nie eers ken nie huilend en druk jou net van verligting.

Dis al wat ek kan onthou…

Maar al wat ek nou weet is…

Ek wil nie teruggaan na daardie skool nie.
Ek wil nie weer daar loop nie.
Ek wil nie weer sien wat ek gesien het nie.

Dis nie ons hoof se skuld nie want as hy geweet het dit sou gebeur weet ek hy sou eerder sy lewe wou gee as wat een van ons leerders s’n gevat word.

Driehoek was nog NOOIT sleg vir my nie en dis nie die skool se skuld nie.
Maar ek wil nie teruggaan nie…

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.