Die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Demi-Lee Moore het in ‘n verklaring gesê sy kanselleer haar vertonings vir die volgende maand.
Die sangeres sê sy het in 2022 “seker een van die beste jare” in haar musiekloopbaan gehad. “Dit was so lekker om te kon reis en julle elkeen te leer ken en almal se stories te hoor. Ongelukkig het die intensiewe toerskedule my stem begin beïnvloed. Ek kon een optrede doen, maar teen die einde van die vertoning was my stem weg.”
Moore vertel na ‘n klomp besoeke aan dokters, baie medikasie en baie rus in Januarie, het sy steeds nie goeie nuus van haar dokter ontvang nie.
“Ek moet onmiddellik rus, minder praat en GEEN sing nie,” sê Moore. “Vir die volgende vier weke moet ek ongelukkig al my vertonings uitskuif/kanselleer.”
Moore sê dit is vir haar baie erg en dat sy dit vir ‘n lang tydperk probeer vermy het.
“Die dokter sê as ons nie nou drasties iets doen nie, gaan ek op die ou end moet geopereer word. En dis iets wat ek regtig nie wil doen nie.
“Ek is so jammer vir almal wat uitgesien het na die vertonings hierdie maand, hierdie keuse is nie ligtelik gemaak nie. My dokter is positief dat hierdie nie ‘n langtermyn probleem is nie, as ek nou die nodige stappe neem en voorsorg tref.
“By voorbaat baie dankie dat julle verstaan.”



