‘n Vrou het gedurende Februarie 2022 in Makhado-polisiëringsarea vermis geraak, terwyl ‘n manspersoon in Julie 2022 in die Tshilwavhusiku-polisiëringsarea vermis geraak het.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die vrou het na bewering haar huis in Sekonye-woonbuurt in Botlokwa verlaat om Louis Trichardt toe te gaan. Die manspersoon (40) is van sy huis ontvoer met die beskuldiging dat hy glo koperkabels gesteel het.
Vhembe-triotaakspan se ondersoek na die twee sake het tot vyf vermeende verdagtes se inhegtenisneming vir beweerde ontvoering en moord gelei.
Dit het aan die lig gekom dat die vrou glo nie haar eiendom in Makhado wat aanvanklik as ‘n bordeel gebruik was, wou verkoop nie. Die verdagtes het haar glo ontvoer, waarna sy aan die brand gesteek, vermoor en in ‘n vlak graf begrawe is.
Die ondersoekspan het glo inligting ontvang oor die man se ontvoering.
Met die ondersoek is bevind dat beide se liggame onderskeidelik by Rathidili- en Madodonga- woonbuurte in vlak grafte begrawe is. Beide die liggame is opgegrawe.
Twee van die verdagtes was alreeds in aanhouding vir moord en ander misdade. Die ander drie vermeende verdagtes is in hul wegkruipplek in Mahwelereng in hegtenis geneem.
Beslag is gelê op ‘n 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook agt rondtes ammunisie.
‘n Forensiese ondersoek sal gedoen word om die identiteit van die liggame vas te stel.
Na bewering is die vermeende verdagtes in beheer van vigilante groepe in Tshilwabusiku en naburige woonbuurde in Makhado se polisiëringsarea.
Lt.genl. Thembi Hadebe het die ondersoekspan vir hul puik diens en die inhegtenisnemings geprys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



