Adrian Roos, DA-skadu-adjunkminister van binnelandse sake, het vandag onthul dat aansoeke vir binnelandse sake uitgevee word weens beurtkrag.
Die moontlikheid dat dit ook in ander staatsdepartemente die geval is, is uiters kommerwekkend en die DA sal in die komende weke toesiginspeksies hou om vas te stel of dit wel die geval is.
“Ek het aan Minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, geskryf om hierdie kwessie dringend aan te spreek,” het Roos aan AfriNuus gesê.
By besoeke aan die Bronkhorstspruit se Binnelandse Sake-kantoor saam met Lida Erasmus, DA-raadslidkandidaat van wyk 105, is gevind dat daar gevalle is waar burgers om ‘n ID-dokument of paspoort aansoek doen, die aansoek voltooi en ‘n geldige kwitansie ontvang het.
‘n Paar weke later wanneer hulle na die kantoor terugkeer om uit te vind hoekom die dokumente nie gereed is nie, vind hulle dat die aansoek heeltemal uitgevee is as gevolg van beurtkrag wat veroorsaak dat die stelsel vanlyn gaan.
Hierdie inwoners moet dan weer aansoek doen.
“Dit is ‘n heeltemal onaanvaarbare mors van tyd vir hierdie inwoners. Daar kan geen onderbrekings in krag wees vir veilige stelsels wat sulke sensitiewe inligting bevat nie,” het Roos bygevoeg.
Volgens Roos het die Minister tot op hede versuim om ‘n DA-parlementêre vraag te beantwoord wat in Oktober 2022 gestel is om ‘n lys van die binnelandse sakekantore met geen funksionerende kragopwekkers of ononderbroke kragtoevoerstelsel te verskaf nie.
‘n Gedetailleerde verslag wat so ver terug as 2019 aan Binnelandse Sake voorgelê is, het elektrisiteit en omgewingskwessies reeds uitgelig as hoofoorsake van stelselstilstande, insluitend kragtoevoertoestelle wat nie inskop nie, geen kragrugsteunstelsels of nie brandstof in kragopwekkers wanneer krag onderbreek nie.
Die lusteloosheid om hierdie kwessies aan te spreek is moeilik om te verstaan, gegewe die erns van hul impak.
“Ministers geniet kragopwekkers by hul huise op belastingbetalerskoste en is heeltemal ontkoppel van die uitwerking van beurtkrag,” het Roos gesê.
Die DA sal opvolg om te verseker dat hierdie kwessie van aansoeke wat weens beurtkrag geskrap word sonder versuim aangespreek word. – AfriNUUS



