Anet Coetzee van Brits in Noordwes is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem nadat sy vanoggend in die kop geskiet is.
Kol. Adele Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan AfriNuus bevestig dat die voorval vanoggend om 05:00 plaasgevind het.
Volgens die polisieverslag was die 45-jarige vrou en haar 10-jarige seun op ‘n plaas buite Brits toe die voorval plaasgevind het.
Na bewering was Coetzee vanoggend op pad na die badkamer toe sy die inbreker in die huis opgemerk het. Die verdagte het deur die venster gevlug, waarna Coetzee die venster toegemaak het.
Met die toemaak van die venster is sy in die kop geskiet. Haar seun is ongedeerd aangetref.
Die vrou daarna na die plaaslike hospitaal vervoer.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie, maar ‘n saak van poging tot moord word ondersoek.
Enige iemand met inligting kan sersant Lucky Tapala by 076 858 3078 of die Stopmisdaadnommer by 086 001 0111 skakel. – AfriNUUS



