Transitorowers kaap bestuurskool se motor na rooftog

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (54) is Saterdag deur verdagtes raakgery nadat hulle ‘n bestuurskool se motor gekaap en daarna ook met ‘n taxi in Verulam, KwaZulu-Natal, gebots het in ‘n poging om ná ‘n transitorooftog weg te jaag.

‘n Grootskaalse soektog is tans aan die gang om die gewapende verdagtes wat die voertuig gesteel het, op te spoor.

Reaction Unit South Africa (Rusa) het Saterdagoggend inligting ontvang oor die bestuurskool se motor wat by die Madressa Mall-parkeerarea gesteel is. Die 54-jarige vrou is raakgery toe die drie verdagtes in die motor weggejaag het.

Die verdagtes het in hulle haas ook met ‘n taxi gebots. Die taxi is verskeie meters teen ‘n afgrond af terwyl die verdagtes die gekaapte bestuurskoolmotor op die toneel gelos en te voet gevlug het.

Met Rusa-beamptes se aankoms op die toneel kon hulle vasstel die gewapende mans was verdagtes in ‘n transitorooftog. Beamptes het ‘n geldtrommel in die area gekry.

Een verdagte is deur beamptes in hegtenis geneem.