Leerlinge blameer ‘eenbeenspook’ vir histerie

Deel hierdie storie / Share this story

Ongeveer 50 kinders het van Umdloti Primêre Skool op Barrs Flatsweg in Coniston, KwaZulu–Natal, gevlug nadat hulle na bewering gesien het hoe ’n leerling deur ’n “eenbeenspook geoffer” word. Lede van Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) is na die skool gestuur nadat opvoeders hulp versoek het om die leerders wat langs die pad saamgekom het, bymekaar te maak.

Met hul aankoms Vrydag om 14:14, het onderwysers Reaksiebeamptes in kennis gestel dat histerie vinnig deur die skool versprei het nadat verskeie leerders gerapporteer het hoe die spook die keel van ’n skolier met ’n mes gesny het. Kinders van graad R tot graad 7 het gevlug in ’n poging om te verhoed dat hulle “opgeoffer” word. ’n Graad 4-leerling het verklaar dat hy deur die spook op sy regterarm aangeval is. Die kinders is terug skool toe vervoer en vir die dag ontslaan. – AfriNUUS