Daar sal Vrydag ‘n roudiens plaasvind vir dr. Rian du Plessis, ‘n geliefde dokter wat vir 12 jaar by MediClinic Gariep in Kimberley se noodgevalle-eenheid gepraktiseer het.
Die roudiens sal Vrydag om 11:00 by die Bikers Church in Kimberley plaasvind.
Die hospitaal het Saterdag die hartseer nuus oor dr. Du Plessis se dood bekendgemaak.
“Dis met swaar harte dat ons die nuus van dr. Rian du Plessis, ‘n gerespekteerde en geliefde ER-dokter by MediClinic Gariep, se dood bevestig,” sê die hospitaal in ‘n verklaring.
“Dr. Du Plessis het die laaste 12 jaar van sy lewe aan sy pasiënte en ons gemeenskap toegewy. Hy sal deur almal by die hospitaal en die breër mediese gemeenskap gemis word.
“Ons gedagtes en medelye gaan uit na sy familie en vriende deur hierdie moeilike tyd.”
Denise Coetzee, woordvoerder vir MediClinic Gariep, het aan FiND iT bevestig dat daar môre ook ‘n roudiens vir dokters en personeel by die hospitaal sal plaasvind.



