Laerskool Staats vanjaar 60 jaar jonk

Deel hierdie storie / Share this story

Wanneer iemand sestig jaar oud is, word so ‘n persoon ’n pensioenaris genoem. Laerskool Staats is dié jaar ’n volle 60 genadejare jonk en die beste vir dié skool lê nog voor. Staatsies is beslis nie gereed vir aftrede nie, maar wel vir optrede!

Daar is heelwat hoogtepunte op die Staats-kalender vir 2023 se spesiale feesvieringe. Staats het Vrydag, 20 Januarie 2023, afgeskop met “Staats se Bondspele”, afgelei van die woord, Statebondspele en die uitkoms van die dag was ‘n groot hoogtepunt vir almal teenwoordig.

Die verrigtinge het begin met die hele skool en personeel wat hartlik saamgesing het aan die liedjie “Lyfie”. Kyk ook hier.

Die hoof, mnr. Christo van Wyk, onderhoof, mnr. Clifford Klassen, die eregaste: oud-leerkragte, me. Helmien van der Westhuizen en me. Sarie Myburgh, het met ’n brandweerwa binnegery gekom, gepaard met groot toegejuiging van die leerders. Kort daarna het die skool se nuwe renoster-maatjie in die middel van die rugbyveld by die blou rookseine in ’n helikopter geland!

Die kinders se uitbundige gejuig het bo die lawaai van die helikopter uitgestyg. Hou Staats se page dop en follow ons.

Die naamlose renoster-maatjie gaan nog vir groot opwinding sorg deur die jaar. Met die dra van ’n fakkel deur me. Helmien van der Westhuizen, en die aansteek van die groot fakkel deur mnr. Van Wyk, is die begin van die feesvieringe simbolies aangekondig en die lied van Jo Black Voel jy die genade in die agtergrond, uiters gepas. Pastoor Clarke het met Skriflesing, gedagtes uit die Woord en ’n besielende gebed, die skool uitgedaag om in die jare wat kom op die fondament, Jesus, te bou.

’n Optog van Laerskool Staats se akademiese, sport- en kultuuraktiwiteite is gehou. Me. Sarie Myburgh het ’n gedig voorgelees wat sy spesiaal vir Staats se 60ste verjaarsdag geskryf het. ’n Paar uur later is die feesvieringe die aand hervat toe onderwysers, ouers en kinders in gesinne saamgetrek het met hulle komberse en piekniekmandjies vir die “Colour Splash”! Almal het deurgeloop onder veelkleurige poeier terwyl gesinne lekker piekniek gehou het. Wat `n fees was dié hele dag nie gewees nie!

Baie dankie aan mev. Joané de Reuck & me. Ankia Helena vir al die reëlings vir “Staats se Bondspele” en me. Roxanne Thomas en haar span vir al die reëlings vir die “Colour Splash”. Wat ’n dag vol herinneringe wat gemaak is!

Kyk gerus na die volgende links:

Staats se Bondspele: https://louisbothamedia.smugmug.com/STAATS-2023/STAATS-BONDSPELE2023/n-rWDQhT

“Colour Splash”: https://louisbothamedia.smugmug.com/STAATS-2023/COLOUR-SPLASH-METPIEKNIEK/n-pRqh25

Ja, ons ervaar reusegenade! Die kinders sê: “Dit was die beste skooldag ooit! Die groot helikopter en die brandweerwa was awesome! Mag Laerskool Staats nog baie genadejare vier!

Berig geskryf deur: Joané de Reuck

Fotograaf: Louis Botha

Videograaf: Martin Kotze