Jong vrou (24) sterf dae na verlowing

Deel hierdie storie / Share this story

Die 24-jarige Jess Prinsloo is dae na haar verlowing, op Oujaarsdag, weens ‘n melkallergie dood toe sy haar tee met die “verkeerde” teelepel geroer het.

Daily Mail berig Prinsloo, wat van Suid-Afrika afkomstig is en reeds ‘n geruime tyd in Brittanje gewoon het, het saam met haar kêrel vir die Desembervakansie in SA kom kuier.

Sy en haar kêrel, Craig McKinnon (24), het mekaar op universiteit ontmoet. McKinnon het Prinsloo op 27 Desember by die God’s Window-uitkykpunt gevra om sy vrou te wees.

Hy vertel hy het geweet hy moes haar in Suid-Afrika vra om te trou.

Die paartjie het later na Prinsloo se ma se huis in Johannesburg teruggekeer en was dolgelukkig totdat Prinsloo, met haar ernstige melkallergie, met melk in aanraking gekom het. Sy het haar tee met die verkeerde teelepel, wat met melk in aanraking was, geroer.

Prinsloo het dié allergie sedert sy nege maande oud was.

Haar keel het volgens Daily Star toegetrek en sy is die dag daarna in die hospitaal oorlede.

“Toe Jess dood is, het ‘n deel van my ook gesterf,” het McKinnon gesê.