Kyk: Man probeer van vermeende ontvoerders wegkom – petroljoggie kyk toe

Deel hierdie storie / Share this story

Glenten van den Heever (34) is gister 19 Januarie 2023 deur vermeende ontvoerders gegryp waar hy in Reyno Ridge (eMalahleni) in ‘n tuin gewerk het, waarna hulle hom in hul voertuig geboender en met hom weggery het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê volgens die slagoffer het ‘n grys Toyota Avanza by hom gestop waarna die drie insittendes hom van diefstal van plante beskuldig het.

Hy is vervolgens geboei en hulle het met hom agter in die voertuig weggery.

Die vermeende ontvoerders het met hom rondgery. Daarna is hulle na ‘n vulstasie om petrol in te gooi. Hierna is met die slagoffer op die N12 op pad na Delmas gery waar die vermeende ontvoerders hom in ‘n veld gelos het.

Die slagoffer het sy weg na Delmas-polisiestasie gevind waar hy ‘n ontvoeringsaak oopgemaak het.

Die drie verdagtes, onderskeidelik 27, 31 en 35 jaar oud, het hulself die volgende oggend om 01:00 aan die polisie oorhandig.

Daar is beslag gelê op die voertuig wat deur die drie verdagtes gebruik is.

Hulle sal Maandag in die Emalahleni-landdroshof verskyn.

‘n Video waarin die slagoffer van die vermeende ontvoerders probeer ontsnap, is wyd op sosiale media versprei.

Jy kan in die video sien hoe hy sy kans waarneem om te ontsnap, terwyl ‘n petroljoggie toekyk. Dan stop twee van die vermeende ontvoerders hom net terug in die motor.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.