Man dood na argument oor hond

Deel hierdie storie / Share this story

Riaan Marais (32) is Saterdag 14 Januarie 2023 by ‘n huis in Melkhoutstraat, Waterkloof, Greenbushes, Gqeberha, tydens ‘n argument met ‘n verdagte (30) oor sy hond met ‘n mes in die kop gesteek. Hy is later in die hospitaal oorlede.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê die argument het ontstaan nadat die verdagte Marais namens sy meisie genader het oor Marais se hond. Die rede vir die argument en die ras van die hond is onbekend.

Tydens die argument het die verdagte ‘n mes opgetel en Marais glo een keer in die kop gesteek. Marais het ineengestort, waarna die verdagte hom gelos en weggegaan het.

Naidu sê die polisie is Saterdagoggend van die hospitaal af van die voorval ingelig.

Marais was in ‘n kritieke toestand en kon nie ‘n verklaring gee nie. ‘n Saak van poging tot moord is geopen.

Later die dag het die verdagte ‘n aanrandingsaak teen Marais by Kabega Park-polisiestasie oopgemaak waar hy in hegtenis geneem is.

Marais is egter vroeg Maandagoggend 16 Januarie oorlede, waarna die verdagte vir moord aangekla is en in die Gqeberha-landdroshof verskyn het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.