‘n Graad 11-seun aan die Hoërskool Windhoek is oorlede toe ‘n vuurpyl wat hy saam met ‘n vriend as ‘n eksperiment gemaak het, ‘n ontploffing veroorsaak het.
Hoërskool Windhoek het die hartseer nuus op Facebook bekendgemaak.
“Ons is verpletter en gebroke oor die verlies van die gr.11-student in WHS, Benn Visser.”
Benn en sy vriend, Daniël, het volgens die skool ‘n eksperimentele vuurpyl gemaak wat ontplof het. Daniël het ‘n ligte oogbesering opgedoen, maar Benn is op pad na die hospitaal oorlede.
“Benn Visser was ‘n pragtige seun vol potensiaal.”
“Ons harte gaan uit na sy ouers, pastoor Leon en Marié Visser van die Agapé-gemeente in Windhoek en sy broer, in graad 10. Ons het geen woorde wat die pyn van die verlies van ‘n kind waardig is nie.
“Ons bid vir liefde, vrede en genesing wat slegs kan kom uit God se hande.
“Mag die Here hulle seën en bewaar, mag Hy sy aangesig oor hulle laat skyn en aan hulle vrede gee.”



