Wimpers op lakens beïndruk

Deel hierdie storie / Share this story

Wimpers op lakens, die selfgepubliseerde boek van Albert Bredenhann soos vertel deur meesterskrywer Sophia Kapp, beïndruk.

Bredenhann, ’n boudoirfotograaf, deel aangrypende vertellinge oor vroue wat vir hom poseer het tydens ’n “sexy makeover shoot”. Hy wil vir elke vrou wat voor sy kamera inskuif en haarself tot in haar siel toe blootstel die versekering gee dat sy aan almal se standaarde, haar eie inkluis, voldoen. “Ek wil vir haar sê: Jy is goed genoeg, jy moet dit net raaksien” (150).

Wimpers op lakens beslaan 170 bladsye en 17 hoofstukke. Die laaste hoofstuk bevat ’n goedlyklys wat vroue aanmoedig om hulleself te versorg voor ’n fotosessie, want sy kamera sien alles. “Dis ’n brutale medium wat alles wys en alles blootlê waarvoor die menslike oog dalk nog kon blind wees” (164). Hy gebruik nie Photoshop nie; hy wil graag vir ’n vrou foto’s gee wat ’n eerlike weergawe is van hoe sy lyk – uiterlik én innerlik.

Die vroue se verhale is uiteenlopend, nes hulle redes waarom hulle ’n fotosessie by Bredenhann bespreek het. Kapp verwoord elke unieke storie met sensitiwiteit en insig. Nie ’n enkele vertelling het my as leser emosioneel onaangeraak gelaat nie. Ek het grepies van myself (en vroue wat ek ken) herken.

Wimpers op lakens belig vrouwees. Bredenhann glo in die helende krag van fotografie. Vir sy modelle en vir hom, ’n man wat al deur die meul is. Hy hou van die uitdaging om ’n vrou na haar selfvertroue te help soek en haar te oortuig dat sy die reg het om in haarself te glo. Hier is een vrou se reaksie op foto’s wat hy van haar geneem het: “Sy het gehuil. Van blydskap. Van ongeloof. Van verligting, dat sy meer is as wat sy bereid was om in haarself te erken (154).

Ek benadruk Dana Snyman se indruk oor Wimpers op lakens: “Die een boek oor vroue wat elke man ook moet lees. Albert se stories bly jou by en laat jou soek na die weerloosheid in elke vrou.” Net, elke vrou moet dit vir seker ook lees.

Skaf jou kopie van Wimpers op lakens hier aan.

Lees Louise Viljoen se indruk oor Impossible Bosses hier.