Man kritiek toe pitbulls hom en vriend aanval

Deel hierdie storie / Share this story

Lazarus Appalsamy (44) van Tasminstraat, Trenance Park, KwaZulu-Natal, is kritiek beseer toe hy in die vroeë oggendure deur twee pitbulls aangeval is toe hy huis toe gestap het.

Reaction Unit South Africa sê die honde behoort glo aan ‘n buurman van die slagoffer.

Inwoners wat die voorval sien gebeur het, het hulle om middernag gekontak. Met aankoms op die toneel is Appalsamy langs die pad gekry waar hy gelê het.

Die beamptes sê volgens Appalsamy was hy glo op pad huis toe, toe die twee pitbulls oor die oprit se hek spring en hom aanval. ‘n Vriend wat hom probeer help het, het ook bytwonde aan sy arm en been opgedoen.

Volgens ooggetuies het die honde hom glo vir ongeveer 20 minute verskeur voordat hulle eienaar opgedaag en die honde na sy huis geneem het.

Die beamptes sê Appalsamy het sy linkeroog in die voorval verloor terwyl stukke vleis van sy arms, bene en lyf geskeur is.

Inwoners het aan die beamptes gesê dit is glo nie die eerste keer wat die honde mense aanval nie. Appalsamy se ma (73) was ook glo ‘n slagoffer, waarna kriminele klagtes teen die eienaar gelê is en die saak steeds in die hof voorkom. Dit kon egter nie bevestig word nie.

Lazarus Appalsamy is na bewering op parool vir moord van ongeveer 20 jaar gelede. Rusa sê dit is ironies, aangesien sy slagoffer glo in die oog gesteek was, waarna hy brutaal vermoor is.

Beide Appalsamy en sy vriend is in ‘n kritieke toestand na Osindisweni-staatshospitaal geneem vir dringende mediese behandeling.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.