Skokkende video: Mediese beamptes vir moord aangekeer nadat man versmoor

Deel hierdie storie / Share this story

Twee mediese beamptes van Springfield in die VSA is vir moord in hegtenis geneem nadat Earl Moore jr. (35) op 18 Desember 2022 in hul sorg dood is.

Hulle is deur ‘n 911-operateur na sy woning ontbied. Hy het glo gehallusineer. Hulle het hom na die HSHS St. John’-hospitaal vervoer.

Dan Wright, die Sangamon-distrik se staatsprokureur, het Dinsdag aangekondig dat die twee mediese beamptes verantwoordelik is dat Moore versmoor het.

Die lykskouingsverslag sê die oorsaak van sy dood was as gevolg van kompressie en posisionele versmoring.

Eerstegraadse moordklagtes is teen die twee mediese beamptes, Peter Cardigan en Penny Finley, oopgemaak. Ten tyde van die vooral het hulle by Springfield Lifestar EMS, ‘n privaat ambulansdiens, gewerk.

Hulle is Maandag gearresteer en na die Sangamon-distrikstronk geneem.

Weens die ondersoek wat voortduur, het Wright net bekendgemaak dat Moore met sy gesig na onder op ‘n draagbaar geplaas en oor sy rug en onderlyf vasgemaak was.

Die kamera-opnames, waarvan daar drie is en almal ongeveer 20 minute lank, is Dinsdag deur owerhede vrygestel. In die video kan gesien word dat daar nie veel vir die oorledene gedoen word of dat hulle enigsins moeite doen om aan hom te vat om hom te evalueer of te behandel nie.

Indien hulle skuldig bevind word, word elkeen deur tronkstraf van tussen 20 en 60 jaar in die gesig gestaar.

Bronne: Fox News en NPR Illinois

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.