Ses verdagtes na plaasaanval in Musina aangekeer

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Limpopo het gister ses verdagtes, vier SA-burgers en twee buitelandse burgers tusssen die ouderdomme van 27 en 38, gearresteer. Dit volg nadat ‘n boervrou op 27 Desember om ongeveer 21:15 op ‘n wildsplaas op die Tshipisepad in die Musina-omgewing in Limpopo tydens ‘n plaasaanval aangerand en besteel is.

Brig. Motlafela Mojapelo sê lede van ‘n trio-taakspan in die Vhembe-distrik het laasnag ‘n intelligensiegedrewe operasie uitgevoer waartydens die ses verdagtes in hegtenis geneem is.

Vyf vuurwapens, kontant in rand sowel as buitelandse valuta is tydens die operasie en arrestasies teruggevind.

Lt.genl. Thembi Hadebe het na die aanval ‘n opdrag gegee dat die verdagtes gejag en mee afgereken moet word.

Inligting het die taakspan na vier areas gelei – Makushu, Masekwa, Tshituni-woongebiede en Greater Kuduland-plaas in die Vhembe-distrik waar die verdagtes vasgetrek is.

Die volgende items is in die besit van die verdagtes gevind:

Agt vuurwapens wat vyf gewere en drie pistole insluit, 188 lewendige rondtes ammunisie, ‘n swart nagvisie-kamera, swart Nikon-verkyker, silwer muntstukke, juwele, ‘n sak met verskillende buitelandse valuta en ‘n boks met ou SA-munte.

Die provinsiale kommissaris het die lede van die taakspan geprys vir die arrestasies en het die gemeenskap bedank vir hul aandeel om die polisie te ondersteun in die geveg teen misdaad.

Die verdagtes sal in die Musina-landdroshof verskyn op klagtes van huisroof, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en besit van die eiendom wat hulle vermoedelik gesteel het.

Lees die vorige berig van FiND iT hier:

https://find-it.co.za/2022/12/29/boervrou-aangerand-tydens-aanval-in-musina/

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.