Boervrou aangerand tydens aanval in Musina

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Boervrou is op 27 Desember om ongeveer 21:15 op ‘n wildsplaas wat op die Tshipisepad in die Musina-omgewing in Limpopo geleë is, tydens ‘n plaasaanval aangerand.

Brig. Motlafela Mojapelo sê na bewering het vyf gewapende verdagtes die perseel binnegegaan en kontant en waardevolle artikels geëis.

Die verdagtes het die vrou aangerand en 11 vuurwapens, kontant met ‘n onbekende waarde wat rande sowel as Amerikaanse dollars en ponde, ‘n skootrekenaar en ‘n selfoon uit twee kluise insluit, geneem voordat hulle met die boer se Toyota Land Cruiser, registrasienommer DHG 739 L, gevlug het.

Die vermeende verdagtes het glo Tshi-Venda gepraat en was geklee in blou werksklere met wit drukwerk op die agterkant.

Lt.genl. Thembi Hadebe het ‘n “manhunt” beveel om die verdagtes op te spoor. Die provinsiale moord-en-roofeenheid sal die ondersoek lei.

Enigiemand met inligting ten opsigte van die misdaad kan lt.kol. Richard Boshomane by 084 322 1341 of AO Phaladi Makola by 071 601 5174 skakel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.