Twee verbrande liggame in Mpumalanga gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Mpumalanga het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat twee verbrande liggame in ‘n stortingsterrein naby Bosbokrand gevind is.

Kol. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het gesê die twee verkoolde liggame is Maandag gevind.

“Die ontdekking van twee verbrande liggame Maandag omstreeks 07:30 in ‘n stortingsterrein in Casteel buite Acornhoek naby Bosbokrand was ‘n verstommende en afgryslike ervaring,” het hy gesê.

“Die polisie is deur ‘n gemeenskapslid in kennis gestel van die grusame ontdekking, en met hul aankoms op die toneel is mediese praktisyns ontbied wat bevestig het dat beide manlike slagoffers dood is.”

Langs die oorledenes het die polisie drie beeskarkasse aangetref.

“Die polisie is in ‘n proses om hul families te vind sodat die twee uitgeken kan word.

“Die motief agter die moord is op die oomblik onbekend hangende ondersoeke. ’n Nadoodse ondersoek sal ook gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal,” het Mdhluli gesê.

Hy het gesê die polisie het sedertdien ‘n “intensiewe” ondersoek begin, wat die opspoor van die eienaars van die beeste sal insluit.

Bronne: IOL, Jacaranda FM

Lees ook: Rowers teiken vulstasie