Man ‘vergeet’ vrou langs pad

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Thaise bestuurder word aanlyn gespot nadat hy “per ongeluk” sy vrou agtergelaat het na ‘n stop langs die pad op Kersdag – wat haar gedwing het om sowat 20 km te stap om hulp te soek.

Boontom Chaimoon (55) en sy vrou Amnuay Chaimoon het Sondag gery om die Nuwejaar in haar tuisdorp in die Maha Sarakham-provinsie deur te bring.

Boontom het die voertuig langs die pad gestop en gesê hy moet dringend sy nood verlig. Amnuay het glo vir Boontoom gevra hoekom hy nie by ‘n vulstasie stop nie, maar toe hy nie antwoord nie, het sy ook maar die bosse ingestap. Boontom het blykbaar nie agtergekom Amnuay het ook uit die motor geklim nie.

Toe sy terugstap motor toe, haar nood verlig, het sy gesien dat haar man sonder haar weggery het en haar alleen langs die pad in die donker gelaat het, volgens die plaaslike webwerf Daily News.

Omdat sy verlore en bang gevoel het, het Amnuay besluit om na die naaste distrik, Kabin Buri, te stap – 20 km (12.4 myl) weg. Na ‘n oënskynlik eindelose tog het sy om 05:00 by haar bestemming aangekom waar sy na die plaaslike polisiestasie is.

Amnuay het nie haar man se nommer geken nie en haar eie foon was in ‘n sak in die motor. Die polisie het haar selfoon meer as 20 keer gebel, maar niemand het opgetel nie.

In daardie stadium het die owerhede probeer om eerder haar familielede te kontak. Amnuay het gevrees dat as sy nie haar man of familie in die hande kon kry nie, sy haar goue halssnoer vir reisgeld sou moes verruil.

Dit was eers om 08:00 dat die owerhede uiteindelik daarin geslaag het om haar man in die hande te kry, wat teen daardie tyd al die pad na die Korat-provinsie, 159,6 km (100 myl) daarvandaan, aan die ry was, volgens Thailand Posts English.

Toe Bontoom hoor wat hy gedoen het, het hy vinnig omgedraai om terug te ry na Kabin Buri en Amnuay op te laai.

Toe hy gevra is hoe hy so ver kon gery het sonder om te sien sy vrou is nie meer in die motor nie, het die vernederde man gesê hy het gedink sy slaap op die agtersitplek. Hy het sy vrou by sy terugkeer hartlik om verskoning gevra.

Ten spyte van sy groot vergryp van vergeetagtigheid het Amnuay gesê hulle het nie gestry toe haar man haar uiteindelik weer opgelaai het nie. Sy het later gesê hulle is 27 jaar getroud en het ‘n 26-jarige seun.

Bronne: IOL, New York Post

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Man wat tiener glo oor mango’s vermoor wag nog vir bed